Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Desiree Braune is ‘n bekende gesig by ‘n plaaslike restaurant waar sy as kelner werk. Min mense weet egter van die voortdurende pyn waarmee sy moet lewe.
Die pyn is al jare deel van haar, gesels Desiree, en sy moet opereer word aan albei haar knieë en linkerenkel. Sy is ‘n staatspasiënt en kry uitstekende mediese sorg by Tsheponghospitaal waar sy al telkemale dokters besoek het. Albei haar knieë moet vervang word. Haar grootste uitdaging is dat die operasies haar vir langer as 8 weke buite aksie sal laat. En as sy nie op haar voete is nie, kan sy nie ‘n inkomste verdien nie.
Die operasies lê soos ‘n berg voor Desiree. “Ek is so verleë hieroor, maar ek het hulp nodig. Ek kan nie meer met al die pynpille nie en dokters het gesê ek kan nie meer langer wag met die operasies nie. As gevolg van die osteo artritus kan my knieë en my enkel meegee en dan staan ek die gevaar om my bene te verloor,’’ sê sy.
Desiree is 47 jaar oud. In haar vroeë twintigs was sy in ‘n ernstige motorongeluk waarin haar regterknie en linkerenkel vergruis is. Nege operasies later en haar regterknie het steeds skeef aangegroei. As gevolg van haar gesukkel om te loop, het die linkerknie nou ook skade opgedoen weens kompensasie vir die swakker regterknie.
Verlede jaar toe tref nog teëspoed. Onder die invloed van sterk pynmedikasie het sy in ‘n boom vasgery en haar motor afgeskryf. Haar regterknie is verder beseer en omdat loop nie ‘n opsie is nie, het sy geen keuse gehad as om ‘n nuwe motor te koop nie. ‘n Vriendin het ‘n Back a Buddy veldtog begin om Desiree te help om haar maandelikse uitgawes te dek terwyl sy van die operasies herstel. “Ek wil net hê sy moet haar lewe voluit kan leef. Sy is nog jonk en vol lewe,’’ het Annette Burger gesê.
Stuur ‘n whatsapp na Desiree by 076 364 2897 of Google Back a Buddy/Desiree Braune.