Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Dit is die onderdrukte angs in die stemboodskap wat die hare op jou arms laat rys.
“Hi julle, hulle breek by my in...’’ Begin die boodskap wat vroegoggend op Maandag 20 Januarie op die Safe City Whatsapp groep gestuur is. Dan nog twee haastige boodskappe en dan “asseblief mense, ek en my kinders is vasgemaak…’’
Op die stadium was die vrou nog vasgemaak langs haar man op die bed in hul slaapkamer. Haar kinders het rug teen rug op die vloer langs die bed gelê. Albei vasgebind. Die rowers was langer as twee minute uit die kamer toe sy haar selfoon wat sy onder haar lyf ingedruk het, kon uitwikkel en in doodsangs om hulp vra. Vier vinnige boodskappe.
Toe hulle agterkom die rowers het gevlug, het hulle stadig na buite beweeg en hulle vasgeloop in die reaksievoertuig van CSS. Nog sekuriteitsmaatskappye het opgedaag en die polisie was ook soos blits op die toneel. Dit is die beste diens wat ek nog van die polisie gekry het. Hul forensiese span het ook gou opgedaag en alles was gou afgehandel.’’
Maar kon die hele nagmerrie verhoed gewees het? Klerksdorp Rekord het ‘n Whatsapp boodskap van die Vuurpyllaan Groep gesien waar een van die inwoners al om 21:45 op Sondagaand 19 Januarie verdagte persone gesien het wat die hoekhuis dophou waar daar ‘n paar uur later by ingebreek is (sien foto). Die huis is op die hoek van Vuurpyllaan en Von Wiellighstraat en was voorheen pastorie van die NG Flimieda.
Die vrou het ook vertel dat ‘n buurman oorkant die pad haar die Maandagoggend vertel het hoe hy gesien het hoe drie mans oor hul muur spring. “Ek wys nie vingers nie, mense is beslis oplettend, maar niemand het alarm gemaak nie, so wat help dit? Jy sit iets op ‘n groepie en hoop iemand tree op. Ek is net dankbaar ek het op die regte groep om hulp gevra en hulp gekry.’’
* Die stemboodskappe kan op Klerksdorp Rekord se Facebook-blad geluister word.