Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *

Latest news
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Deur Salomé Kotzé

Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Die gesin van Flimieda wat vroeër die week slagoffers was van ‘n huisrooftog, lewe in vrees dat die inbrekers wat hulle vir bykans twee ure in hul huis aangehou het tydens die plundertog, sal terugkom.

 



Die ma het gevra dat die gesin se identiteit nie bekendgemaak word nie. Albei haar kinders, die 10-jarige seun en 15-jarige dogter, het berading gekry na die voorval. “Dit is die ergste gevoel nog om nie veilig te voel in jou eie huis nie. Ons slaap almal saam in een kamer en beweeg in vrees in ons huis rond. Ons het nou ‘n alarm ingesit en dink aan nog maniere om ons sekuriteit op te skerp,’’ het sy aan Klerksdorp Rekord gesê.

Die inbrekers het toegang gekry deur diefwering oop te buig by ‘n eetkamervenster en daar deur te klim. Die venster was toe. Almal was vas aan die slaap toe hulle ongeveer 02:00 toeslaan. “My slaapkamerlig het aangegaan en dit het my wakker gemaak. Ek het regop gekom en toe ek weer sien kyk ek vas in gewere wat in my gesig gedruk word. Daar was drie mans. Hulle het balaklavas aangehad en dik handskoene. My man het ook wakker geword en ek het net vir hom gesê doen alles wat hulle sê.

“Hulle het ons met cable ties vasgebind en gesê hulle soek geld en gewere. Gevra wie is nog in die huis. Ek het gesê die kinders slaap, hulle moet hulle los, maar hulle het my kinders uit hul beddens na ons kamer gesleep. Hulle is ook vasgebind, sommer met selfoon charger kabels en skoenveters.’’

Dit was vir die ma die ergste om te sien hoe die inbrekers haar seun ‘’met ‘n geweer teen sy kop’’ in die huis begelei om hulle na waardevolle items te lei. Hulle het ook die motorsleutel en die spaarsleutel gevat en sy het aanvanklik vermoed hulle is met die motor daar weg, maar die is toe nie gesteel nie. Die sleutels is wel weg. “Kort-kort het een van die inbrekers gesê hy gaan my dogter verkrag en ek het gesoebat en gesmeek om dit nie te doen nie. Sy het na die tyd vir my gesê hoe sy heeltyd gebid het. Sy het gesê ‘ek het net geweet ek moet heeltyd bid, mamma’. Dit breek my hart. My seuntjie het so kalm gebly. Hy was vreesloos. Ek is so trots op hom.’’

Sy is oortuig dat hul huis geteiken is, aangesien een van die inbrekers die heeltyd op ‘n selfoon gepraat het met ene Lewis wat gesê het daar moet nog geld, en nog vuurwapens wees. “Dit was vir my snaaks, want die inbrekers, wat almal baie goeie Engels gepraat het en glad nie Afrikaans verstaan nie, het elke keer gesê volgens hulle informasie moet daar nog geld en vuurwapens in die huis wees. Ek het later gesê hulle moet die verkeerde huis hê, want hulle het alles gevat wat ons van waarde het. Ons het nie eens ‘n vuurwapen nie.’’

Selfone, skootrekenaars, twee televisies, twee klankstelsels, juwele wat haar trouringe insluit en kontant is ondermeer in die inbraak gebuit. Hulle het later agtergekom die diewe het hulself gehelp aan die kinders se kosblikke wat vir die volgende dag gepak was, en aan die man se versameling peperduur whiskey. Glase halfvol whiskey en coke is in die kombuis gelos.

Die gesin kon uiteindelik ontsnap nadat die tienerdogter die veters om haar arms kon loswikkel. Sy het haar ouers losgesny met ‘n skêr en hulle is skuil-skuil na buite waar hulp opgedaag het (lees berig hiernaas). “Dit was ‘n vreesaanjaende ervaring. Dit wys net mens is geen plek meer veilig nie. Die Here het ons absoluut bewaar. Dit was nie hierdie rowers se eerste keer nie. Hulle het geweet wat hulle doen. Dank die Vader ons is veilig.’’

Enigiemand met inligting word versoek om die ondersoekbeampte, adj-off Louis Harmse te skakel by 0836071395.