Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *

Latest news
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Klerksdorpers in die noordelike voorstede was die afgelope naweek besig om woonbuurte op te knap.

In Lautzlaan in La-Hoff is daar sedert Maandag 12 Februarie privaat werkspanne wat slaggate vul. JP van der Schyff het in ‘n plasing op sosiale media gesê dat daar teen Dinsdagmiddag 13 Februarie reeds 94 gate in die straat gevul is. 

Chris de Jongh wat ‘n skoonmaakaksie in die Ianstraat-verlenging van stapel gestuur het, het ook vandeesweek aan Klerksdorp Rekord gesê inwoners is keelvol vir die agteruitgang. “Ons het donasies gekry van inwoners en het begin om die sypaadjies skoon te maak, slaggate te vul en spoedhobbels te verf. Ons is dankbaar vir almal se ondersteuning, ook die DA en Vryheidsfront Plus wat hul gewig agter ons projek gegooi het.’’

Die AfriForum-tak in Klerksdorp het hande gevat met La-Hoff se buurtwag en die DA om die toegegroeide parkie in Odendaalstraat oop te sny. Al die bome is gesnoei, die gedeeltes om die apparaat is netjies gemaak en die vullis is verwyder. 

“Dit is lekker om te sien dat buurtwagte leiding neem in hul buurte en nie net meer daarop fokus om patrollie te ry nie, maar ook op ander aspekte in die gemeenskap. Dit was vir ons ’n voorreg om hierdie inisiatief te ondersteun, het Theo Gresse, die voorsitter van die AfriForum-tak gesê. 

Hulle hoop dat inwoners van ander buurte die voorbeeld sal volg. Klerksdorp Rekord en Arnold en Wessels Drukkery het onderneem om die middelman voor hul kantore skoon te maak. In Leemhuisstraat is daar ‘n tuindiensonderneming wat die middelman daar gesny hou en in Buffelsdoornweg is daar ook ‘n projek onderweg om die park netjies te hou. Inwoners van Doringkruin maak ook al ‘n geruimte tyd hul woonbuurt self netjies. “Dit is jammer dat inwoners moet inspring om die munisipaliteit se werk te doen, maar ons kan nie so aangaan om die verval maar net te aanvaar nie,’’ sê De Jongh.