Klerksdorp Rekord, Kanana - Speurders van Kanana het deurnag gewerk om die moordenaars van drie Basotho mans wat aangerand en in die Schoonspruit gegooi is, op te spoor.
Vier mans, ook van Lesotho, is in hegtenis geneem vir die marteling en moord op drie van hul landge-note die afgelope naweek.
Volgens kol Adele Myburgh, polisiewoordvoerder, het alles begin by ‘n bakleiery tussen Basotho mans by ‘n drinkplek in uitb 3 van Kanana.
“Aanvanklike inligting het aangedui dat die een groep die ander oorval en vyf slagoffers in ‘n voertuig gedwing en ontvoer het. Hulle het na die nabygeleë Schoonspruit gery waar hulle die slagoffers aangerand het. Een van die slagoffers het ontsnap en vier ander is in die rivier gegooi. Een van die slagoffers het na veiligheid geswem, terwyl drie ander vermis geraak het.’’
Die saak is by die polisie aangemeld, wat dadelik na die slagoffers begin soek het. Polisieduikers is die volgende dag (19 Januarie) geaktiveer om met die soektog te help. Die eerste lyk is Maandagoggend vroeg deur polisieduikers gevind, sowat 800 m stroomaf van die aanvanklike misdaadtoneel. ’n Tweede lyk is Dinsdagmiddag sowat 650 m stroomaf opgespoor en die laaste lyk is later dieselfde dag omstreeks 16:40 sowat 1,5 km stroomaf van die misdaadtoneel teruggevind.
Verdere ondersoek deur die speurders het gelei tot die inhegtenisneming van die eerste verdagte op Maandag.
Nog drie verdagtes is ook geïdentifiseer en in hegtenis geneem. Mosweu Letsie (32), Tumisang Khoachone (21), Tshidiso Mohloboli (18) en Itumeleng Mosweunyane (24) het in die Orkney-landdroshof verskyn op aanklagte van moord, ontvoering en aanranding met die doel om ernstig te beseer (GBH). Hulle is steeds in aanhouding.
Die waarnemende provinsiale kommissaris van Noordwes, generaal-majoor Patrick Asaneng, het die span gelukgewens dat hulle 24 uur per dag gewerk het om die vermeende misdadigers te identifiseer en in hegtenis te neem en die liggame van die oorledenes uit die rivier te haal. Hy het ‘n sterk waarskuwing gestuur dat wetteloosheid nie geduld sal word nie en gesê misdadigers sal die volle mag van die wet in die gesig staar.