Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Terwyl die Happy’s van Alabama hierdie maand die vierde jaar sedert hul dogter se moord herdenk, is daar hoop dat haar moordenaar voor die einde van April gestraf sal word.
Enslin en Loren Happy se dogter, Emolia sou vandeesweek haar 24ste verjaardag vier. Sy is wreed vermoor op 6 Februarie 2021.
Die beskuldigde in die saak, Babatjie Jantjies, is in 2023 in hegtenis geneem nadat DNA hom met die moord en verkragting van Emolia verbind het.
Klerksdorp Rekord het vroeër berig dat hy aanvanklik in hegtenis geneem is kort na die moord, maar vrygelaat is in afwagting op die uitslag van die DNA bewyse wat op die toneel gekry is. Dit was vir die slagoffer se ouers “onmenslik moeilik’’ om te sien hoe hy sy lewe geniet, terwyl hul dogter dood is.
“Hy het sy parool verbreek en is gelukkig nou die heeltyd agter tralies, want hy kan nie borgtog kry nie. Ons het gehoor hy kan lewenslank tronk toe gaan,’’ het Enslin die week gesê.
“Ons is dankbaar vir familie en vriende se gebede en ondersteuning. Onse Mola kan amper in vrede rus."
Die moordverhoor begin op 23 April in die streekhof in Klerksdorp.