Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *

Latest news
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - ‘n Afgetrede boer van Ventersdorp is nog steeds omgekrap met sy kennismaking met provinsiale verkeersbeamptes wat hom twee weke gelede afgetrek het oor hy kwansuis oor ‘n rooi verkeerslig gery het. 

Carel Strydom was op 27 September in Klerksdorp vir sake en het op die N12 gery toe hy, volgens hom, oor ‘n oranje lig by ‘n kruising is.

Hy vertel die provinsiale verkeersafdeling was in die linkerbaan geparkeer en het eintlik die verkeer opgehou. Hulle keer hom toe voor oor hy, volgens hulle, oor die rooi verkeerslig gery het. “Ek kon nie net stop nie, want daar was ‘n motor agter my. Ek is toe afgetrek, maar ek hou vol die lig was nog nie rooi toe ek daar oor is nie,” sê hy.

Volgens hom het drie verkeersbeamptes, ‘n man en twee vroue hom toe met R3 000 beboet. Dit is verminder na R1 500, omdat hy ‘n pensioenaris is. 

“Dit was ‘n Vrydag en hulle het gesê ek moet betaal of ek sit die hele naweek in die selle. Ek het so groot geskrik en toe maar besluit om te betaal. Hulle het natuurlik vir my gesê dat hulle my ‘n guns doen om die bedrag te verminder. Ek moes dadelik die geld gaan trek en hulle het agter my aan gery. Hulle het gesê hulle sou die boete self by hul kantore inbetaal. Toe is sommer onder ‘n boom gestop, ek het die geld oorhandig en hulle het gesê ek kan maar ry en sal nie weer hiervan hoor nie.”

Hy vertel sy naam of ID-nommer is nie eens gevat nie en hy is oortuig dit was ‘n omkopery.  Hy het met ander mense gepraat en dit is glo die modus operandi wat verkeersbeamptes gebruik om ‘n vinnige rand of twee te maak.

Strydom is vies vir homself, en sê hy weet nie wat hy moes doen nie, want vir ‘n naweek in die polisieselle het hy ook nie kans gesien nie.

Maar wat moet ‘n motoris doen in so ‘n geval? Volgens Lenro Mostert, ‘n plaaslike prokureur, is hy bewus van verskeie sulke gevalle. Hy sê as jy ‘n verkeersoortreding begaan moet jy ‘n boete kry met ‘n hofdatum daarby anders is dit ongeldig. “Jy moet ook kalm bly, die beamptes se name vat en aandring om in ‘n verkeershof te verskyn. As jy moet betaal, sal jy aan ‘n landdros betaal. Dit behoort die omkopers stil te maak,” sê hy.