Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Gebed het die Brits-egpaar regop gehou toe hulle die afgelope naweek van hul jongste kind moes afskeid neem.
Maya Brits (10) is op Saterdag 11 Januarie by die Leefstyl Volle Evangelie Kerk in Klerksdorp gegroet. Haar laaste rusplek was in ‘n melkskommel pienk kis. Groot sagte teddiebere het saam vertrek na die krematorium op Viljoenskroon waar sy veras is. Pa Pieter en ma Cathy was daar om finaal afskeid te neem.
Maya is verlede week in die hospitaal dood nadat sy ‘n paar weke vantevore met breinkanker gediagnoseer is. Dit was onopereerbaar en ‘n doodsvonnis vir die dogtertjie wat uitgesien het na haar gr 4-jaar in Laerskool Meiringspark. Sy is op 7 Januarie oorlede.
“Ons het soveel mense om dankie te sê. Almal wat vir Maya gebid het, en vir ons gebid het. Ons waardeer dit uit ons harte. Ons bedank pastoor Paul Smith vir die roudiens wat hy gehou het en vir die gemeente vir die verversings na die diens en die ekstra moeite. Dankie aan Martin’s begrafnisondernemers vir hul moeite. Die mense wat die kissie gemaak het, die bloemiste wat die blomme voorsien het en die krematorium vir die finansiële bystand.’’