Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Terwyl die reën verlede week uitgesak het, het ‘n jong pa van Klerksdorp ernstige beserings opgedoen toe ‘n kragdraad wat in winderige weer losgekom het, hom ‘n elektriese skok gegee het. Hy was kaalvoet en het in ‘n plas reënwater gestaan.
JP Mostert se droom om volgende maand in Amerika te gaan werk, is nou verby. Hy is vandeesweek geopereer om frakture aan albei sy heupe te herstel nadat die elektriese skok hom etlike meters ver gegooi het.
Dit alles het in hewige reën op Dinsdag 18 Februarie gebeur. Hy het ‘n harde geluid gehoor en ondersoek gaan instel na waar sy 4-jarige seuntjie is, toe die fratsongeluk gebeur. En om sake te vererger, vertel sy ma Drienie, kon ‘n ambulans hom eers die volgende middag na die hospitaal vervoer, omdat die kleinhoewe waar hy was, vir ‘n wyle deur vloedwater van die buitewêreld afgesny is.
“Was dit nie vir die Here se genade nie, was my kind vandag dood,’’ vertel ‘n dankbare Drienie. ‘n Lang herstelpad lê voor vir die jongman wat op 1 Maart na Amerika sou vertrek om daar te gaan boer.
“Dit was sy droom en dit is nou daarmee heen. Maar hy lewe nog en daarvoor is ons dankbaar.’’
JP het ook brandwonde aan sy voet opgedoen en skade aan sy regteroog wat met tyd sal herstel. Hy is steeds in die hospitaal en sterk goed aan.