Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *

Latest news
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Terwyl Tina Jacobs die stygende watervlak van die Schoonspruit bekommerd dopgehou het, het die massa water wat haar kleinhoewe skielik omsingel het, haar steeds verras.

“Ek was rustig oor die waarskuwings dat ons moet ontruim, want die water het nog nooit so hoog gekom nie. Ons is mos al ‘n paar keer hierdeur. Ek het van die diere na hoërliggende areas geneem, maar nog nooit gesien die water styg so vinnig nie. Binne 28 minute was ons huis van droog na onder water.’’

 

Tina boer op kleinskaal op die Kleinplasie kleinhoewe in Cuckoostraat en verskaf organiese eiers aan verskeie plaaslike restaurante. Dit was vir haar belangrik om al haar diere na veiligheid te kry en na ‘n noodroep op Whatsapp was sy verstom hoe Klerksdorpers tot haar redding gekom het. “Sjoe, ek is uit my hart uit dankbaar vir almal wat kom help het. Ek het nuwe respek vir Klerksdorp en sy mense. As daar nood is, kom help hulle.’’

In Homanstraat was dit egter ‘n ander storie. Storm bly daar en het aan Klerksdorp Rekord vertel hoe niemand daar was om hulle te help ontruim nie. “Ons huise was heupdiepte onder water. Ek moes my diere in my hande bo my kop hou om daardeur te kom. Alles het baie vinnig gebeur. Binne ‘n halfuur was alles onder water.’’

Storm vertel sy bly al 15 jaar in die huis en die water was die vorige keer net enkeldiep, nog nooit so hoog nie. “Ek dink net die munisipaliteit kon hulp verdeel en nie net op een plek hulp verleen nie, maar almal help wat in nood was.’’

Hulle en die honde het daardie Woensdagnag koud en nat in hul bakkie deurgebring. Die bakkie was tot by die ruite onder water en voor die huis geparkeer. “Ons het nêrens gehad om heen te gaan nie, maar ons wou ook nie alles net so los nie,’’ het Storm gesê. Die vloedwater het teen Donderdagoggend begin sak.

Tina wat ook al met skoonmaakwerk begin het, sê sy glo dit het ‘n verskil gemaak om lid te wees van die Irenepark buurtwag. “Ek het dadelik hulp gekry toe ek om hulp gevra het. Daar was ook ‘n groep vir Orkney Animal Shelter wat almal met hul diere gehelp het. Hierdie mense het omtrent hard gewerk. Dit is moeilik om mense uit te sonder om dankie te sê. Maar almal wou help.’’

Sy het nie baie skade gehad nie, behalwe vir die modder en slik wat nou opgeruim word en antieke houtmeubels wat skade het. “Dit ruik of ‘n baber onder my bed dood is en ek het daardie vloer uitgehaal. Ek het ook waardevolle ou dokumente en kinderfoto’s verloor wat onder in ‘n kas gebêre was.’’ 

Goeie nuus is die bedremmelde eend-gesin wat die week moeg en honger terug by die plaas opgedaag het. “Ek het gesien hoe hulle verlede week in die water wegspoel en gedink dis die laaste sien van die eende, maar nou ja, hulle is terug. Dit het my laat glimlag.’’