4 Julie 2025 - Klerksdorp Rekord, Stilfontein - Die polisie op die dorp word toegegooi onder klagtes van kubermisdaad, internetbedrog en bankbedrog.
Volgens adj-off Naas Venter van die speurtak gebruik misdadigers allerhande slim maniere om die publiek te bedrieg en van hul geld te steel soos meer mense toegang verkry tot slimfone, WhatsApp, internetbankdienste en aanlyninkopieplatforms.
“Hierdie misdade gebeur oral in Suid-Afrika - in elke dorp. Op Stilfontein is meer as honderd bedroggevalle onlangs aangemeld. Dit is baie vir so ‘n klein dorpie. Bly waaksaam. Gebruik jou gesonde verstand,” waarsku hy.
Meld misdaad of verdagte aktiwiteite by die polisie aan. Die anonieme misdaadlyn is 08600 10111.
Venter sê mense moet bedag wees op die volgende:
* Phising e-posse en SMSe: Bedrieërs stuur vals boodskappe wat voorkom asof dit van banke of maatskappye afkomstig is. Hulle vra vir jou OTP, PIN of persoonlike besonderhede. Moet nooit hierdie inligting deel nie. Moenie vertrou dat iemand wat jou bel en sê hulle is van die bank, die waarheid praat nie. Hulle beweer geld is van jou rekening afgetrek, en terwyl jy aanmeld, spoor hulle jou foon op en kry toegang tot jou rekening. Hulle stuur vir jou ‘n valse OTP en vra vir jou wagwoord - moet dit nooit gee nie. Beëindig die oproep onmiddellik en kontak jou bank. Hierdie misdadigers kry toegang tot jou bank en enige gekoppelde rekeninge (e-pos, spaarplanne, kredietkaarte, oortrokke rekeninge, ens.)
* Aanlynaankopebedrog: Misdadigers adverteer vals produkte (soos motors, elektronika, vee) op Facebook Marketplace, Gumtree en ander platforms. Sodra jy betaal, verdwyn hulle. Hulle adverteer karavane, sleepwaens, ens teen ongelooflike pryse. Moenie geld betaal nie. As die item baie goedkoper as normaal is, is dit gewoonlik te goed om waar te wees. Gebruik programme soos “True Caller” om nommers na te gaan. Google die maatskappy se adres, bel rond om vas te stel of dit bestaan. As ‘n webwerf net goeie resensies het, kan dit wees dat vriende/familielede dit self geplaas het.
* Whatsapp-identiteitsbedrog: Misdadigers gee voor dat hulle iemand is wat jy ken en vra vir geld of adverteer produkte teen lae pryse.
* Vals boedel- en loteryeise: Jy kry ‘n boodskap dat ‘n ryk familielid of vreemdeling gesterf het en jy ‘n uitbetaling ontvang. Indien jy nie deur ‘n wettige prokureur of bank gekontak is nie, ignoreer dit.
* “Pop-up ads”: As jy koekies of nasporing op jou foon toelaat, kan jy vatbaar wees vir “pop-up” bedrog. Advertensies wat sê jy het gewen, vra later vir geld of inskrywingsgeld. Moenie op enige advertensie klik nie. Verlaat die app, blokkeer, verwyder en rapporteer die webwerf. Jy het niks gewen nie. Volwasse webwerwe - moenie reageer op boodskappe van “mans/vrouens wat wil gesels nie”.
* Maklike geld: Pasop vir skemas wat beloof om jou geld te verdubbel of jou vinnig ryk te maak. Piramideskemas is algemeen. Hulle gebruik vals Facebook-advertensies, WhatsApp en ander sosiale media. Vriende se Facebook kan deur hulle “gehack” word en jou kontak. Skakel die persoon en bevestig. Daar is nie iets soos maklike geld nie.
* SIM swap en selfoonbankbedrog: Misdadigers kan jou selfoonnommer oorneem en toegang kry tot jou banktoepassings. As jy skielik netwerk konneksie verloor of vreemde bankkennisgewings kry - kontak jou selfoonverskaffer en bank dadelik. Moenie met hierdie mense praat nie - hulle is oortuigend.
* “Cash send”-bedrog: Wanneer jy jou banktoep gebruik om geld te stuur, maak seker slegs jy gebruik jou toestel. Moenie jou besonderhede aan iemand gee nie. Baie gevalle kom voor waar geld nie by die regte persoon uitkom nie. Gebruik plekke waar jy veilig voel en moenie vreemdelinge toelaat om jou te “help” nie.
* OTM-bedrog: Neem iemand saam as jy na ’n OTM gaan. Laat niemand jou help nie! Misdadigers sal sê hulle het hul strokie of kaart in die OTM vergeet - dit is ‘n manier om jou kaart te steel of te kloon. As jou kaart se “tap” funksie aan is, maak seker ‘n PIN is steeds nodig. Indien kaart gesteel is met geen veilgheidspin nie kan die misdadiger talle kere die kaart gebruik by verskillende winkels.
* Lasbrief vir inhegtenisneming: Mense ontvang oproepe of WhatsApp-boodskappe van misdadigers wat voorgee dat hulle polisielede is en sê daar is ‘n lasbrief vir jou arrestasie. Hulle beweer ’n pakkie met dwelms is op jou naam gevind of daar is ’n saak teen jou. Hulle wil dan geld hê om die saak “te laat verdwyn”. Die polisie sal jou nooit kontak en waarsku dat jy gearresteer gaan word nie. As jy weet jy het niks verkeerd gedoen nie, ignoreer en blokkeer hulle.
* Seksuele uitbuiting: Jy word gedreig via Messenger, WhatsApp of Instagram dat daar seksuele beelde/video’s van jou is. Hulle dreig om dit aan jou familie, kollegas of op sosiale media te versprei. As jy weet jy het niks gedeel nie, blok en rapporteer die rekening. Moenie glo wat hulle sê nie.
* Jou bank sal nooit jou PIN vra nie: Banke sal nooit vir jou PIN of wagwoord vra nie. Jou bank het nie toegang tot jou PIN nie - net jy sal weet as daar geld uit jou rekening onttrek is. As jy vir ‘n gratis aanlyn proeftydperk inteken en nie kanselleer nie, is dit nie die bank se skuld as geld afgaan uit jou bankrekening nie. Moenie jou bankbesonderhede op “gratis” proewe deel sonder om die fynskrif te lees nie.
Hoe om jouself te beskerm:
Deel nooit jou PIN, OTP of wagwoorde met enigiemand nie - selfs al sê hulle hulle is van die bank. Verifieer altyd iemand se identiteit voor jy geld of persoonlike besonderhede gee. Moenie vreemdelinge aanlyn vertrou wat aanbiedings, erfgeld of beleggings belowe nie. Moenie voorafbetalings maak aan onbekende persone of verkopers nie. Stel sterk wagwoorde en twee-stap verifikasie aan op alle toepassings. Rapporteer gesteelde fone of verdagte aktiwiteite onmiddellik aan jou bank.