Klerksdorp Rekord, Hartbeesfontein - Die DA eis ingryping deur die Matlosana munisipaliteit om die rioolramp aan te spreek wat boorgate vergiftig, besighede verlam en gesinne in gevaar stel.
Volgens rdl Maritha Coetzee word inwoners gedwing om met die ondraaglike stank van riool saam te leef, gesinne kan nie hul deure en vensters oopmaak nie, kinders word blootgestel aan gesondheidsrisiko’s, en plaaslike voedselondernemings ly daagliks. Kleinhoewes wat aan die hoofrioollyn grens, word ook geraak, aangesien oorlopende riool boorgate besoedel wat deur beide inwoners en diere gebruik word.
“Die DA eis onmiddellike herstelwerk en behoorlike instandhouding van die rioolstelsel, belegging in afvalwaterbehandelingsaanlegte en aanspreeklikheid vir munisipale amptenare wat toelaat dat dienslewering ineenstort.
“Dit is nie net ‘n ongerief nie - dit is ‘n openbare gesondheidskrisis. Damme van rioolwater bly langs die pyplyn vorm, wat waterbronne besoedel en lewensonderhoud bedreig. Met die reënseisoen wat nader kom, sal die probleem net vererger namate geblokkeerde en begrawe mangate oorloop.’’
Volgens Coetzee is dit weens jare van verwaarlosing, onwettige storting en onderbelegging wat inwoners van Hartbeesfontein nou van hul waardigheid stroop. “Ons opper hierdie kwessies herhaaldelik en sal die druk verhoog totdat skoon strate, veilige water en betroubare infrastruktuur herstel word,” het sy gesê.
Sy het bygevoeg dat die paaiedepartement se poging om boomwortels langs die lyn skoon te maak, sake net vererger het deur mangate met grond te bedek, wat die riooldepartement nie in staat stel om hulle op te spoor nie.
“Onvermoë, kaderontplooiing en swak beplanning lê aan die kern van hierdie ramp. Die mense van Hartbeesfontein verdien skoon strate, veilige water en ‘n munisipaliteit wat vir hulle werk. Die DA sal nie rus totdat hierdie krisis opgelos en waardigheid herstel is nie.”