Klerksdorp Rekord, Potchefstroom - Die twee Klerksdorp hoërskole wat verlede week aan die Noordwes Interhoër deelgeneem het, het uitstekende resultate behaal.
KHS het die beste gevaar - op die atletiekbaan en op die pawiljoen - en algeheel tweede geëindig. Hoërskool Rustenburg wat die byeenkoms aangebied het, het gewen terwyl die meisies van Potch Girls High die geesbeker gewen het. KHS se geesbeeste moes met die tweede plek tevrede wees.
Hoërskool Wesvalia se atletiekmeisies het drie van die vernaamste trofeë van die dag ingepalm. Denike Jordaan is as junior Victrix Ludorum aangewys en beste baanatleet. Sy het nuwe rekords in die 200m, 400m, en 300m hekkies opgestel. Carli Visser is as senior Victrix Ludorum aangewys met ‘n nuwe rekord in die 400m hekkies.
KHS se jongbloed, die o14s, het veral die oë laat rek met uitstekende resultate en die jong spiesgooi sensasie, Lehanke Beets is besig om haar naam in die rekordboeke te verewig. Onder die afrigtingshand van Erich Wiese het sy die interrekord met ‘n stewige gooi na oor die 40m aangeskuif. In die 100m vir seuns o14 het Ogane Mosala ‘n rekord opgestel en Unity McKlain het in die 400m vir seuns o14 ‘n nuwe rekord van 53,41s opgestel.
Die o14 seuns van KHS en Wesvalia het mekaar in die aflos ‘n taai stryd aangesê met albei skole wat die rekord verbeter het. Wesvalia het goud gekry en KHS silwer. KHS se o16 meisies het ook die aflosrekord gebreek.
KHS is tevrede met altesaam 175 podium posisies en het met 69 goue medaljes, nege meer as verlede jaar, ingeoes. Wesvalia het altesaam 135 medaljes gewen.
Die Wessies se langasem, Wian Boshoff het nuwe rekords in die 1500m en 3000m opgestel en die blitsvinnige Divan Pullen het drie nuwe rekords agter sy naam, in 100m, 200m en 300m hekkies). Francois de Villiers het ‘n rekord in die diskus gebreek. Wesvalia se o19 seuns het ook die aflos gewen.
KHS neem volgende week in die top groep deel by die Superinter teen skole soos Afrikaans Hoër, Helpmekaar, Waterkloof, Garsfontein en Noordheuwel. Dit sal die eerste keer wees dat KHS in die top groep deelneem nadat hulle verlede jaar groep twee gewen het.