Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *

Latest news
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

deur Salomé Kotzé

Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Die laaste weke van brigadier Neville Seymour se polisieloopbaan het hy daaraan spandeer om dankie te sê.

Dankie en erkenning vir harde werk. Want dit is met ‘n hart van dankbaarheid dat Klerksdorp se stasiekommissaris op Donderdag 29 Februarie sy kantoordeur vir die laaste keer agter hom gaan toemaak. 

Sy aftrede was eintlik vinniger op hom as wat hy gedink het, glimlag hy. Nie dat hy spyt is nie. Op 60 is dit tyd na ‘n loopbaan van 42 jaar in die polisie. ‘n Loopbaan wat nie altyd met rose besaai was nie, en ook maar sy dorings op die pad gehad het.

Vir Seymour is dit egter ‘n eer om sy polisieloopbaan wat kort na sy matriekjaar in Fort Beaufort in die Ooskaap begin het, in Klerksdorp te kan afsluit. Hy het in 2018 hier ingestap en in ‘n tyd waar die plaaslike polisie erg deur die gemeenskap gekritiseer is, deurgedruk en kan nou ‘n toegewyde span agterlaat. “Hier is baie goeie lede by Klerksdorp polisiestasie. Party van hulle gee 16/17 ure werk ‘n dag. Ook in die CBD waar die misdaad ons amper ondergekry het, werk ons nog volstoom. Ons moet net volhou daarmee. 

“Ons het uitstekende lede in die polisie en wanneer die kritiek dreig om ‘n mens onder te kry, dan moes ek maar moed inpraat. Dit was my leuse om die negatiewe om te swaai in ‘n positiewe. Om kritiek opbouend te maak.’’

Vir hom is die samewerking wat hy kon bewerkstellig met die buurtwagte, sekuriteitsmaatskappye, verkeer en ander rolspelers, van onskatbare waarde en hy hoop sy opvolger kan daarop voortbou. “Hierdie mense versterk ons hande. Ons het baie struikelblokke, maar saam met hierdie organisasies kry ons baie reg. En daarvoor is ek dankbaar.’’

Vir ‘n man wat al soggens 06:30 op kantoor was en nie geloop het as sy werk vir die dag nie afgehandel is nie, gaan die aftrede ‘n aanpassing wees. “Maar ek stres nie nou daaroor nie. Daarvoor het ek genoeg op my kleinhoewe om my besig te hou,’’ glimlag Oupa Neville. En daarvoor gaan hy ook nou meer tyd hê. Om oupa te wees vir sy vyf kleinkinders. Om trekker te ry op die hoewe waar hy ‘n kleinskaalse veeboedery aan die gang het. En dalk om bietjie vakansie te hou, want hy kan nie onthou wanneer laas hy iewers heen met vakansie was nie.

“Ek wil baie dankie sê aan die Klerksdorp gemeenskap vir hul ondersteuning. My provinsiale kommissaris, die distrik kommissaris en bestuur en personeel vir hul vertroue en ondersteuning in my oor al die jare. Dit was vir my ‘n eer,’’ groet hy.