Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Die verdwyning van ‘n dieselwerktuigkundige en sy handlanger meer as ‘n week gelede van ‘n plaas buite die stad, het sosiale media aan die gons.
Chris van Blerk (34) en die veel jonger, Donovan van der Walt (25) is die laaste keer gesien op 14 Julie toe hulle gestuur is om onderdele in Klerkindustria te gaan koop. Sedertdien is hulle spoorloos. Die polisie het intussen die gemeenskap se hulp ingeroep om die twee mans te help opspoor, met geen sukses. Hul foto’s is die afgelope paar dae oral op sosiale media gedeel.
Adj-off Louis Harmse, die ondersoekbeampte, het op Dinsdag 22 Julie bevestig dat die twee steeds weg is - agt dae na hulle as vermis aangemeld is.
Op sosiale media word die moontlikheid dat hulle gekaap is meestal genoem met wense dat hulle spoedig - en lewend - gevind word. Die ander moontlikheid wat ondersoek word, is dat die twee hul verdwyning beplan het. Niemand weet egter wat werklik gebeur het nie.
Inligting oor die twee is skraps, behalwe dat Van Blerk oorspronklik van Potchefstroom is en eers onlangs op Plot 1, Afrikaner, Kafferskraal as ‘n dieselwerktuigkundige begin werk het. Sy werkgewer het hom en sy gesin gehelp om na Klerksdorp te verhuis. Hy het ‘n week en ‘n half daar gewerk en Klerksdorp Rekord het verneem dat hulle nou twyfel of hy wel as ‘n dieselwerktuigkundige gekwalifiseer is.
Inligting oor Van der Walt is selfs meer skraps, want hy het blykbaar nie amptelik op die plaas gewerk nie en was ‘n los hand.
Die twee mans is by die plaas weg met ‘n vol tenk diesel in die bakkie. Die geld, glo ‘n paar duisend rand, waarmee hulle die onderdele sou koop, is saam met hulle weg. Intussen is ook vasgestel dat al die implemente op die plaas se diesel uitgetap is, en vermoedelik saam met die twee vort is.
Hul fone is ook af en die bakkie se opsporingstoestel is in Johannesburg gedeaktiveer.
Boonop is Van Blerk se meisie en haar twee kinders nou op die plaas gestrand. Sy het saam met hom soontoe verhuis en nou dat hy weg is, het sy geen heenkome nie. Sy wou nie haar naam genoem hê of met die media praat nie, maar het wel te kenne gegee dat sy baie bekommerd is oor hom en nie weet wat aangaan nie.
Sy het die werkgewer na die polisiestasie vergesel toe hy die twee as vermis aangemeld het. Skakel adj-off Harmse by 083 607 1395 of Crime Stop by 08600 10111 indien jy weet waar hulle hul bevind.