Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - KHS het die eerste groot byeenkoms van die atletiekseisoen goed afgeskop en spog met ‘n sewende plek uit 63 deelnemende skole wat aan die NWU Top 30 byeenkoms deelgeneem het.
KHS se atletiekspan het die ander Noordwesskole geklop wat Potch Gimmies, Wesvalia, Rustenburg en Volkskool insluit. KHS het selfs groot stadskole geklop soos Monument, EG Jansen, Garsfontein, Kemptonpark, Nelspruit, Transvalia en Oos-Moot.
Spiesgooi atleet Ewald Jansen en Kate-Lynn Fourie in die 90 m hekkies het elk meer as ‘n 1000 ASA tabelpunte aangeteken.
Ander puik uitslae met atlete wat meer as 900 punte aangeteken het, is Hanro Nel (diskus), Lizé van Zyl (100m), Amogelang Tatai (3 000m), Elardus Botha (diskus) en Marques Olivier (spiesgooi).
KHS het vyf goue medaljes gewen. Die atlete is Elsie Wannenberg (200m), Michaela Thomson (100m), Amogelang Tatai (3000m en 1500m) en Marco Symington (spiesgooi).