Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Laerskool La Hoff het die jaar se Super 8 landloopkompetisie gewen.
Die kompetisie het einde Julie in Kroonstad plaasgevind en span die kroon op die jaar se harde werk. Altesaam 30 Hoffies het deelgeneem waarvan 18 van die atlete top vyf plekke behaal het. Nog ‘n veer in die hoed vir die skool wat vroeër vanjaar die Super 8 atletiek en Super 8 Rugby en Netbal gewen het.
Afrigter Sakkie van Antwerp is veral trots op die langasems wat besonders presteer het. Die atlete se ouers besing sy lof en Henriëtte van Zyl het aan Klerksdorp Rekord genoem dat sy liefde vir landloop en die kinders “help ons kinders tot die hoogtes wat hulle gaan’’.
“Ons as ouers is dankbaar vir ‘n besonderse afrigter soos oom Sakkie in ons kinders se lewe.’’
Hieroor lag Sakkie net beskeie, dan erken hy dat hy tog ‘n slag het met die jongklomp. “Jy weet, hier is selfs graad eentjies wat by my oefen, en ek wil hê hulle moet nog in die Hoërskool en selfs na skool aan atletiek deelneem. Daarom hou ek daarvan om ‘n liefde vir die sport te kweek en werk ek op ‘n mooi manier met hulle.’’
Sakkie rig al van 1992 landloop en lang- en middelafstande af in Klerksdorp. “Ek het daarin betrokke geraak toe my kinders begin deelneem het. Toe het ek ‘n ruk opgehou, en in 2009 het Laerskool La Hoff se skoolhoof my gebel en weer betrokke geraak. En ek is nou nog besig.’’
Hy is 68 jaar oud en dink nog nie aan ophou nie. Meeste van sy atlete gaan na Hoërskool Wesvalia as hulle klaar is met die Laerskool en so het hy nou ook die Wesses se landloopbreier geword.
Die landloopspan wat vanjaar die Super 8 gewen het, bestaan uit Ryan van Alleman, Benjamin Blom, Dominic Kruger, Mynhardt Coetzer, Arlo Smith, Daru Fouché, Ruben van Eeden, Eduan Senekal, Frans-Phillip Bonthuys, Dané Janse van Vuuren, Wilmien van Zyl, Stephné Van der Westhuizen, Mehan Van der Westhuizen, Elrico de Lange, Tineke McMaster, Kara Steyn, Alex van Alleman, Meanzé Stoop, Lolani Janse van Vuuren, Eloné de Lange, Dorette van Zyl, Roubaix Reynecke, Mnushke Smith, Waldo Senekal, Avoné Badenhorst, Leonard Hirselman, Ruben Senekal, Simoné Herselman, Caralize Reyneke en Karli Swanepoel.