Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Laerskool Saamtrek het 2025 op ‘n hoë noot afgeskop, met die atlete wat die rekords behoorlik laat spat het tydens die huissportbyeenkoms wat op Saterdag 18 Januarie gehou is.
Een van die rekords is in die vorige eeu opgestel. Alto Wiggett het egter korte mette van die spiesgooirekord gemaak wat in 1999 opgestel is. Die belowende o/13-atleet het die vorige rekord van Rick Basson met amper 10 m verbeter. Sy afrigter, Erich Wiese sien nog groot prestasies in sy toekoms.
Alto is verlede jaar as die beste veldatleet tydens die SA Kampioenskap aangewys.
Ryan Beets het met ‘n kragtoer ‘n nuwe rekord in gewigstoot vir seuns o/11 opgestel. Hy verbeter die rekord van 2017 op 10.31 m met ‘n afstand van 11.74m. Die jongeling het ook ‘n nuwe rekord by die SA Kampioenskap verlede jaar opgestel.
In die naellope het Bryan King laat spaander in die 60m en 80m en nuwe rekords opgestel. Die 60m rekord staan sedert 2015.
Lean van Staden het sy neef, Zane se rekord van 2017 in 200m Hekkies verbeter van 29.81s na 29.65s.
Die hoogspring atlete het behoorlik vir aksie gesorg en daar is drie rekords gebreek en een geëwenaar. Declynne Da Silva (o/13) stel ‘n nuwe rekordhoogte vas van 1.49 m. Sy het ook ‘n goue medalje verwerf in hoogspring meisies o/12 tydens die SA Kampioenskap in 2024. Zanelle Karsten (o/10) se wenhoogte is 1.27 m en Wian Oberholster (o/11) stel nuwe rekord op 1.40 m. Alex Bezuidenhout (o/13)het die hoogspring rekord geëwenaar op 1.55 m.
Thione Malan stel ‘n nuwer rekord op in 80m meisies (o/6) met ‘n nuwe tyd van 15.50.