Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Laerskool Saamtrek het nege Noordwes kampioene opgelewer by die afgelope kampioenskap.
Altesaam 24 Saamtrek atlete het aan 38 items deelgeneem en geoes onder die medaljes. Die atlete het tien goue medaljes, nege silwer en vier bronsmedaljes huis toe gebring. Twee splinternuwe rekords staan ook agter Samies se name.
Ryan Beets (o11) verbeter die gewigstootrekord van 13,81m na 14.35m en Rogan Roos (o10) stel ‘n nuwe verspringrekord op met ‘n afstand van 4.77m. Nog goue medaljes is verower deur Lean van Staden (80m hekkies o13), Alto Wiggett (spiesgooi, diskus o13), Declynne da Silva (hoogspring o13), Nélike van der Berg (spiesgooi o13), Wian Oberholster (hoogspring o11), Zanelle Karsten (hoogspring o10) en Lilika Fourie (1200m o10).
Die langbeen Da Silva het benewens goud in hoogspring, ‘n silwermedalje in die 200m hekkies gewen. Nog tweede plekke is behaal deur: Lean van Staden (200m hekkies o13), Alto Wiggett (gewigstoot o13), Nia Terblanche (200m, verspring o13), Denay Fourie (75m hekkies o13), Juhanell Ollewagen (diskus o13), Liam Coetzer (spiesgooi o12) en Rogan Roos (70m hekkies o10). Bronsmedaljes is gewen deur Estian le Roux (hoogspring o10), Zanelle Karsten (gewigstoot o10), Dherik Hennop (gewigstoot o10) en Christiaan Pretorius (hoogspring o11).