Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Klerksdorp was die gasheer van die Noordwes Sporttoekennings wat die afgelope naweek plaasgevind het.
Plaaslike sportsterre is by ‘n glansgeleentheid op Vrydag 23 November by Rio Casino vereer. Die tema was heel gepas “Night of the Stars”.
Mona Beukes is as die afrigter van die jaar aangewys. Sy is bekend as ‘n dansafrigter en van haar studente het al internasionaal uitgeblink.
Die aand het egter behoort aan die paralimpiese atleet Liezel Gouws wat as die algehele sportster van die aand aangewys is. Sy is ook as die sportvrou van die jaar met ‘n gestremdheid aangewys. Gouws is van Klerksdorp en het gesê sy het haar taaiste seisoen ooit die jaar beleef. Sy het almal bedank vir hul ondersteuning.
Klerksdorper Lizelle Erasmus, bekende in netbalkringe, was een van die genomineerdes in die kategorie vir beste sport administrateur.
Die stad se uitvoerende burgemeester, Fikile Mahlophe, het die geleentheid geopen deur alle gaste te verwelkom. Hy het gesê die aand word gewy aan die harde werk van individue in Sport, Kuns en Kultuur.