Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Die afgelope naweek se rubberboot wedren het in Bloubergstrand plaasgevind in tipiese Kaapse weer met sterkte winde en ‘n ontstuimige see. Drie spanne van Noordwes se F1 rubberbootklub het aan die laaste kampioenskap van die seisoen meegeding. Boot S40 met Renier le Roux en spanmaat Jan Human, en boot S14 met Renier Cronje en spanmaat Francois van Rooyen, het uitstekend gevaar as die twee vinnigste bote in die p750 standaard klas.
Die twee binnelandse spanne het duidelik hul teenwoordigheid laat geld en die sirkel wedren in die branders sowel as op die langafstand wedren oorheers. Die span van boot S47, Taylor en Dusty Day, het hul padfietse vir ‘n wyle verruil vir die rubberboot wedren, en onder die moeilike weersomstandighede goed presteer. Gedurende die eerste wedren was hulle in ‘n goeie eerste plek, maar moes hulle die posisie afstaan en met ‘n derde plek tevrede wees, nadat die wedren gestop is as gevolg van ‘n boot wat omgedop het in die rowwe branders.
In die tweede wedren het hul weer ‘n derde plek behaal, maar in die finale wedren van die dag uitgeval nadat die enjin onklaar geraak het.
Die wedren oor die twee dae is gewen deur Cronje en Van Rooyen, in boot S14.
Die jaarlikse prysuitdeling van die rubberboot organisasie, Saira, het op Saterdag 16 November plaasgevind. Le Roux en Human het met die nasionale titel in die gemodifiseerde klas, p750 mods, weggestap. Boot S14 van Cronje en Van Rooyen het ‘n tweede plek in die p750 standaard klas, in die nasionale kampioenskap behaal.
Die finale jaar afsluiting van die F1 rubber boot club sal op 30 November by die Vaal Reefs Bootklub gehou word, waartydens die sportmanne hul Noordwes kleure sal ontvang.
Vir enige navrae, skakel Jean Louw, voorsitter, by 083 634 1171.