Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Die Trans Agulhas, bekend as die wêreld se moeilikste opblaasbootwedvaart, is ‘n jaarlikse geleentheid wat langs Suid-Afrika se suidelike kuslyn plaasvind.
Die 35ste uitgawe, geborg deur Six Gun Grill, het plaasgevind van 28 tot 31 Desember. Drie spanne van Klerksdorp en omgewing het deelgeneem en hul stemme behoorlik dikgemaak in die resies waar opblaasbote ongeveer 700 km oor vier dae moet aflê.
Die wedren het in Plettenbergbaai begin en in Strand geëindig. Deelnemers het deur verskeie kusdorpe navigeer, insluitend Mosselbaai, Stilbaai en Struisbaai, met uitdagende seetoestande wat hul uithouvermoë en vaardigheid toets. Hierdie geleentheid lok plaaslike en internasionale mededingers en trek jaarliks duisende toeskouers. Die wedloop is sedert sy ontstaan in 1988 ’n beduidende deel van Suid-Afrika se sportkalender.
Renier le Roux en sy spanmaat, Jan Human, het algeheel derde in hul afdeling geëindig en die beste gevaar van die deelnemende Klerksdorpers. Die Day-broers, Tyler en Dusty, was die eerste drie dae kop-aan-kop met Renier en Jan maar teëspoed op die vierde dag het hul kanse op ‘n podium posisie gesink. Riaan Kruger jr en sy spanmaat, JJ Storbeck het die eerste keer aan die Trans Agulhas deelgeneem en die taai wedvaart voltooi. Altesaam 40 spanne het ingeskryf. Op die laaste dag het 37 bote by Struisbaai weggespring vir die laaste dag en 23 het die wedvaart voltooi.