Klerksdorp Rekord. Klerksdorp - Dit is groot teleurstelliing vir Tjaart Piston Kruger van Klerksdorp wat voorberei het vir die Ultimate Slap Fight Africa Championship net om te hoor dit is vir eers uitgestel. Hierdie geleentheid sou op Donderdag 10 Oktober by die SunBet Arena in Pretoria plaasvind.
Kruger en Jaco Grootwit Marneweck sou die stryd aansê vir die vakante superswaargewigtitel. Dié titelgeveg is in Augustus aangekondig. Grootwit, afkomstig van Barberton, is die heersende Punisher Slap Fighting SA superswaargewigkampioen en het ‘n rekord van een verlies en een oorwinning. “Ek het hom geleer en nou baklei hy teen my. Ek was sy leermeester,” vertel Piston.
Albei vegters oefen intens vir die geveg en Piston vertel hy oefen hard in die gimnasium en hy kan nie wag nie.
Grootwit beskryf Piston as “’n groot en snaakse ou, altyd vol grappies. Maar hy is ook ’n groot klapvegter en ek weet hy gaan ’n taai teenstander wees”. Die byeenkoms sal nou eers heelwat later plaasvind. ‘n Moontlike datum is 20 Desember.
‘n Opwarmingstoernooi vind op 5 Oktober in Kempton Park plaas waar Piston ‘n paar klappe sal uitdeel. Kruger het opslae gemaak in Klerksdorp Rekord en nasionaal toe hy in die Vaaldriehoek deelgeneem en sy opponent se ligte uitgeslaan het. Hy het ook pas teruggekeer van Las Vegas waar hy aan die Power Slap-kompetisie deelgeneem het.
Hardste klap sal Afrika-kampioen beslis
Typography
- Smaller Small Medium Big Bigger
- Default Helvetica Segoe Georgia Times
- Reading Mode