Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - ‘n Sesjarige ruiter van Klerksdorp, Riané Groenewald, op haar perd Farris, het die SA-kampioenskap (SANESA) gewen.
Die Letaba Uithourit het vroeër die maand in Polokwane plaasgevind waar Riané en Farris die enigste deelnemers van Noordwes was wat in die 40 km afdeling deelgeneem het. Riané is deel van Azar-Ali Endurance en dit is die verste wat een van die klub se perde gereis het om aan ‘n byeenkoms deel te neem.
Riané se ma, Amé, het haar op die rit vergesel aangesien kinders jonger as 14 jaar nie alleen mag ry nie.
Riané en Farris was van die begin af voor haar teenstanders. Ruiters moet die rit in ‘n tyd van 2½ ure aflê. Dit behels ‘n spoed van ±16km/h vir 40km.
Riané het die rit in ‘n tyd van 2:30:19 voltooi en is as nasionale wenner (laerskole) oor die afstand aangewys. Sy is ook die jongste ruiter onder die SANESA afdeling, asook die jongste ERASA ruiter wat ‘n 40km op die baan voltooi het.
Riané het n besonderse perd wat al verskeie ritte en afstande onder haar ma se hand voltooi het. Hy is ‘n sagte en rustige perd. “Die dag toe Riané haar hart verloor het op uithouritte het ek geweet Farris is die perfekte perd. Sy het al verskeie kere van hom afgeval as hy skrik, maar sy klim weer op en ry verder. Riané is baie getrou met haar oefenprogram. Sy ry elke week 30km,” vertel Amé.
Riané oefen saam haar perdeversorger, Shadreck. As hy nie saam met haar kan oefen nie, oefen sy op haar eie.
“My mamma se perd is te stadig vir my,” sê ‘n selfversekerde Riané.