15 Augustus 2025
Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Die laaste ligawedstryde in die Noordvaal Beker plaatafdeling word die naweek gespeel en Klerksdorpers kan weer uitsien na bobaasrugby op ons voorstoep.
Albei plaaslike hoërskole wat in die plaatafdeling meeding speel tuis, op Saterdag 16 Augustus.
KHS se eerstes is redelik seker van ‘n plek in die semi-finaal, maar ‘n taai wedstryd lê voor teen Hoërskool Zwartkop. Zwarries het nog nie een wedstryd in die liga verloor nie en KHS lek hul lippe af om die span te klop en so ‘n semi-finaal voor ‘n tuis skare te kan speel. Die KHSérs het hul rugbykouse opgetrek en waar hulle voor die vakansie onder aan die puntelys was, het die span nou tot by die top vier gevorder.
Al die laaste wedstryde is met bonuspunte gewen wat die Blou span ‘n goeie hupstoot selfvertroue gegee het.
Vir Wesvalia lê ook ‘n veldslag voor, nadat die span heelwat teruggesak het op die puntelys en vir Kempton Park met ‘n groot telling moet klop om deur te dring na die semi’s. Die Kempies het nog net een wedstryd gewen en is tans heel onder op die puntetabel. ‘n Groot rugbydag word by Wesvalia beplan, want dit kan die laaste wedstryd vir die matrieks op hul tuisveld wees.
Wat die stand van sake op die algehele puntetabel is na die afgelope naweek se wedstryde, beklee Wesvalia ‘n stewige vierde plek en lê KHS nou in ‘n gemaklike sewende plek en is die kans om hul plek in die plaatafdeling te verloor, bitter skraal.
Twee skole sal aan die einde van die seisoen gerelegeer word terug na die plaatafdeling met een skool wat bevorder sal word na die bekerafdeling.