Klerksdorp Rekord, Orkney - Tussen hierdie drie manne is daar 205 jaar se rugby gespeel.
Flip van der Merwe (89), Chappie Holtzhausen (89) en Billy Booth (86) het die jaarlikse Western/Vaal Reefs Old Boys Rugbyklub se reünie bygewoon. Verbeel jou die staaltjies wat die trio het om te vertel.
Beide Van der Merwe en Holtzhausen het vir die Western Reefs Rugbyklub begin speel in 1956 terwyl Booth in 1958 by hulle aangesluit het as ‘n 19-jarige speler. Die drie manne is van die oudste spelers van die Old Boys klub en hou die laaste 26 jaar getrou saam reünie.
Die jaarlikse byeenkoms wat onlangs plaasgevind het, het weereens lede van oor die hele land gelok. Die samesyn en kameraadskap
bly uniek aan die tye en herinneringe van die klub met menige staaltjie nog vars in die geheue.
Wat ook duidelik uitstaan by die reünies is die getroue ondersteuners in die vorm van toeskouers wat die klub gehad het en nog steeds het. Daar is lekker gelag oor van die stories wat hulle te vertel het van die kantlyn af.
Gegewe dat die klub een van die oudstes in die land is, voel die manne dit is belangrik om die klub se voorbestaan te bevorder deur jonger lede te nooi om betrokke te raak.
Rugbyspelers van die Western Reefs dae wat nie lede is nie, word gevra om kontak te maak met Dirk van Zyl (082 879 8312) wat tans die voorsitter is van die Old Boys.
Die manne wat in die Vaal Reefs-dae gespeel het is natuurlik dié wat die klub sal moet laat voorbestaan - hul word ook hartlik uitgenooi om kontak te maak.