Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Niemand het gedink dit gaan ‘n maklike wedstryd wees tussen KHS en Wesvalia nie, allermins die 30-tal skoolseuns wat met vlinders in die maag verlede Vrydag op die veld gedraf het nie.
Met die afskop kon jy sien die senuwees knaag nog, maar minute in het die wedstryd ontaard in ‘n taai spel, wat net so wel die eindstryd in ‘n wêreldbeker-finaal kon wees. Die verwagtinge was groot in die wedstryd waar die eerste rugbyspanne van Wesvalia en KHS mekaar vir die eerste keer in maklik ‘n dekade op die rugbyveld ontmoet het. Weens die onderlinge wrywing en selfs vyandigheid tussen die skole is daar eendag in ‘n raadsaal besluit dat hulle liefs nie teen mekaar moet speel nie - ook oor die passievolle ondersteuners wat óf bruin óf blou skree.
Jy kan nie vir altwee skree nie. Soms is appels geswaai en skole is deesdae baie gesteld op hul beeld, niemand wou weer die appelkar (of Suzuki) omgooi nie. So nee, geen rugby derby vir Klerksdorp nie, los dit vir die Paarl.
Tot nou. Met Wesvalia wat vanjaar na ‘n hoër liga gerelegeer is, het daardie besluit in die stof geduik en het dit gou bekend geword dat die Bruin Bere die Blou Golf in die Noordvaal-liga op hul tuisveld op 10 Mei gaan pak. Uiteindelik! het Klerksdorp se skolerugby-ondersteuners gegil.
Toe gee die NWU Prestige Reeks vir Klerksdorp ‘n bonus. Albei skole is deur na die kwartfinaal en Wesvalia en KHS moet uitspeel vir ‘n plek in die semi’s. Hoe gelukkig kan mens wees?
Die wedstryd is voor ‘n begeesterde skare by Wesvalia gespeel en het al die opwinding van ‘n volwaardige skolerugby derby gehad. Die toeskouers was vir die volle 70 minute vasgenael met die wedstryd wat tot die naelbyteinde vir groot opwinding gesorg het.
En of jy nou saamstem met die telling of nie, Wesvalia wen met 16-12. Losskakel Eddie Dreyer se drie strafdoele en een doelskop het ‘n groot rol in sy span se oorwinning gespeel. Fafa Calitz het die drie gedruk.
Vir KHS het Tiaan Koen en Dorian Isaacs drieë gedruk en Brendin Matthyse het een drie verdoel.
Die volgende Klerksdorp derby is op 10 Mei by KHS - met ligapunte op die spel sal dit ‘n wedstryd wees wat jy ook nie wil mis nie.
* Op die netbalbaan het KHS se eerste netbalspan en o17s deurgedring na die semifinale na oorwinnings van 27-20 oor Wesvalia en (o17) 30-11 oor Potch Gimnasium.