Klerksdorp Midweek, Stilfontein - Die polisie op Stilfontein vra die gemeenskap se hulp om vier mans op te spoor wat ‘n huis in Burgerstraat beroof het. Volgens adj-off Naas Venter, die ondersoekbeampte, het die rooftog om 02:00 op 26 Januarie plaasgevind toe drie mans by die huis ingebreek het deur die eetkamervenster oop te forseer en die diefwering te verwyder.
“Hulle het die pa, ma en twee tienerseuns oorval. Een van die verdagtes het ‘n vuurwapen gehad en nog een ‘n mes. Hulle het elektroniese toerusting, geld en juweliersware gevat en gevlug met die eienaar se VW Polo wat later verlate in Jouberton teruggevind is,” het Venter gesê.
Dit het later onder die slagoffers se aandag gekom dat daar vier rowers was, aangesien die vierde een by die Polo vir die ander drie gewag het.
“Daar word vermoed dat dieselfde vier mans net ‘n uur tevore by ‘n huis in Napierstraat ingebreek het. Dit is die derde huisroof in dieselfde area in Stilfontein.”
Die rowers was aggressief en het die familie gedreig. Gelukkig is niemand beseer nie.
Venter het inwoners daaraan herinner om bewus te wees van wat in hul omgewing gebeur, om met hul bure te kommunikeer, ‘n hond binne of buite die huis te hê, die alarm te aktiveer en ekstra sekuriteit in en om die huis te kry.
Skakel Venter by 018 484 7638 indien jy weet waar hulle hul bevind.