NOORDWESTER – LICHTENBURG - Die Majuba-veldslag word elke jaar tydens die laaste naweek van Februarie herdenk en derhalwe het Afrikaners onlangs weer van heinde en ver op die Majuba-plaas, 20 km suid van Volksrust, toegesak.
Die feesprogram is afgeskop met ’n kanonskoot en kranslegging. Die aand is ’n fakkelloop teen die berg op gehou en die rooi vuurstreep het gesorg vir ’n asemrowende toneel.
Saterdagoggend is die kampeerders begroet deur ’n digte misbank wat die berg omvou het. Ná afloop van die vlaghysing, wat deur die leerders van CVO-Lichtenburg uitgevoer is en ’n vlagvoorstelling deur die Bittereinder-Perdekommando, is daar heerlik saamgekuier.
Die sagte reën kon niemand keer om deel te neem aan perderesies, sweepklap, jukskei- en die skyfskietkompetisie nie. Toe die wolke hul sluiers lig, is die berg met geesdrif aangedurf. In die H.S. van Blerk-saal is daar heerlik volkspele gehou, want Afrikaners is mos plesierig.
Die fees is Sondag op gepaste wyse met ’n kerkdiens afgesluit. Met ’n vol gemoed en mooi herinnering is feesgangers uitmekaar ... tot die volgende Majubafees.