NOORDWESTER – COLIGNY - Oud lede van Coligny Kommando het agtien jaar na die statutêre sluiting van die kommandos ‘n kommando -gedenkmuur opgerig op die terrein van die NG Kerk in Coligny.
Die onthulling het plaasgevind op 17 Oktober en is bygewoon deur net meer as 100 gaste. Die 50 oudlede en hulle gesinne het lang afstande afgelê om teenwoordig te wees. Daar was oudlede van Delmas, Middelburg, Brits, Pretoria en Potchefstroom.
‘n Aangename atmosfeer het geheers waar ou vriende van jare gelede mekaar weer in die oë kon kyk.
Die byeenkoms het die vorm van ‘n parade aangeneem waar die oudlede hulle medaljes en ander militêre toekennings kon dra. Daar was ook ‘n paar Springbok- en Proteakleurbaadjies vir Bisleyskiet.
Dr Gavin Meistre het met skriflesing geopen en daarop gewys dat daar nêrens in die Bybel iets staan van aftrede nie. Daarom moet oudlede nog aktief bly in hul gemeenskappe.
Hierna het die Hakboslaagte-blaasorkes ‘n treffende item gelewer.
Dit is opgevolg deur staande hulde te bring aan generaal Georg Meiring wat ‘n paar weke gelede oorlede is. Hy was die laaste hoof van die Suid- Afrikaanse Weermag uit die ou bedeling.
Met die onthulling van die muur is daar hulde gebring aan elke lid wat sedert 1949 diens verrig het in die kommando. Daar is ook verwys na die wêreldklasweermag wat oudlede in gedien het.
Twee kranse is gelê ter nagedagtenis aan die lede wat reeds oorlede is.
Die blaasorkes het die verrigtinge afgesluit met nog ‘n item om luister aan die geleentheid te verleen.
Gaste is hierna onthaal op heerlike eetgoed in die kerksaal. Die Kommandomemorabilia is ook hier uitgestal en almal het tot laat gekuier.
Dankie aan Wim Liebenberg vir die inisiatief en die reëlings vir ‘n suksesvolle herdenkingsbyeenkoms.