Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *

Community News
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

NOORDWESTER - NWK span vanjaar nie minder nie as ses stootskrapers in om sowat 2 000km se grondpaaie van en na sy silokomplekse te skraap. 
Dié projek het op 22 April afgeskop en die kostes gaan na raming sowat R2 miljoen beloop. 
Dit is die derde jaar wat NWK hierdie projek onderneem. Dit volg nadat die maatskappy in 2021 ʼn memorandum van verstandhouding met Noordwes se Departement van Openbare Werke, Paaie en Vervoer onderteken het, waarvolgens dit sy hulp aan die regering bied om die provinsie se grondpaaie meer begaanbaar te maak. 

Daar was aanvanklik vier skrapers opgekommandeer om die paaie te skraap. Die projek het egter later as verwag begin, omdat die paaie baie droog was weens heelwat minder reën wat in NWK se bedieningsgebied geval het. Die skrapers is gevolglik na ses vermeerder om die tempo te versnel en daar word nou fluks gevorder. 
Paaie in die omgewing van Coligny, Gerdau, Bodenstein, Boschpoort, Ottosdal, Sannieshof en Barberspan word geskraap. “Produsente beleef ʼn uitdagende seisoen en ons wil hulle hiermee die versekering gee dat ons selfs in moeilike tye hul paaie gelyk maak,” het Jaco du Rand, senior bestuurder van Graan, gesê. 
“Die projek is uitdagend omdat die paaie op talle plekke feitlik oorgebou moet word. Dit noodsaak boonop bykomende uitgawes,” het hy bygevoeg. 
“Ons is daarom baie dankbaar vir produsente wat ook inspring en help met die herstelproses. Dit stel ons in staat om vinniger te vorder en selfs meer kilometers te skraap.” 
Boere begin nou in alle erns om graan te stroop en sal hul oeste met groter gemak na NWK se silokomplekse kan vervoer. 
Ook plaaswerkers en skoolkinders maak daagliks van hierdie paaie gebruik.  “Baie van Noordwes se paaie is in ʼn haglike toestand,” het NWK se uitvoerende groephoof, Theo Rabe, verduidelik.  
“Ons ploeg graag terug in gemeenskappe waarbinne ons sake doen en waar die regering tekort skiet, poog ons om ʼn verskil te maak en klante se lewenskwaliteit te verbeter.”  Die projek sal na verwagting teen einde Junie afgehandel wees.