Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *

Community News
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

NOORDWESTER – LICHTENBURG - Die matrieks van 2024 in die Ditsobotla-subdistrik se slaagsyfer het met 11% verbeter en staan nou op 88,66%. 
Die toppresterende matrikulante van 21 skole in dié subdistrik is verlede week (23 Januarie) by ʼn erkenningsgeleentheid van Noordwes se Onderwysdepartement vereer waar elkeen ook ʼn splinuternuwe skootrekenaar, toegerus met die nuutste sagteware, van NWK ontvang het. 

NWK onderneem hierdie projek jaarliks sedert 2013/2014 om voornemende tersiêre studente se studies te ondersteun. Die waarde van vanjaar se skenking is sowat R283 000. 
Ditsobotla is geleë in die Ngaka Modiri Molema Distriksmunisipaliteit in Noordwes en huisves dorpe soos Lichtenburg, Coligny en Itsoseng. 
Benedict Modise, direkteur van Ekonomiese Ontwikkeling by NWK, het die matrieks van 2024 gelukgewens met hulle harde werk en toewyding, wat duidelik vrugte afgewerp het. “Julle het bewys dat diegene wat in hulleself glo, sukses behaal. Hou aan om ander met julle merkwaardige prestasie te inspireer. Julle het ʼn hoë standaard vir toekomstige matrieks gestel.” Hy het hulle aangemoedig om die diverse loopbaanmoontlikhede wat NWK bied, te oorweeg en by Suid-Afrika se oudste landboumaatskappy te kom werk sodra hulle gekwalifiseerd is. 
Marilie Rossouw van Hoërskool Lichtenburg is die topmatrikulant in Ditsobotla en het agt onderskeidings behaal. Sy het gesê dat dit “baie ure en ure se harde werk” geverg het om hierdie uitsonderlike prestasie te behaal. Sy het toekomstige matrikulante aangeraai om nooit op te gee nie en aan te hou probeer, al behaal hulle swakker punte in die rekord- en ander eksamens. 
Sy gaan B.Sc. Gesondheidswetenskappe met Biochemie en Fisiologie aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus studeer. “Hierdie skootrekenaar van NWK laat my baie spesiaal voel. My harde werk was die moeite werd en word raakgesien,” het sy geglimlag. 
Ook Galaletsang Tsetse van Bophirima Secondary School in Itsoseng was oorstelp met die ontvangs van haar skootrekenaar. “Ek is verheug!” het sy uitgeroep. “My ma is werkloos. Slegs twee van ons familielede werk tans, maar verdien nie genoeg geld om ʼn skootrekenaar soos hierdie te kan bekostig nie.” Sy gaan vanjaar Maatskaplikewerk by die Universiteit van Johannesburg studeer. 
Oarabile Realeboga van Gaetsho Secondary School in Lichtenburg het ander matrikulante aangemoedig om nie toe te laat dat struikelblokke hulle verhinder om groot sukses te behaal nie. 
Hy beoog om ʼn graad in Verpleegkunde by die Universiteit van die Vrystaat te verwerf. “Ek hou van vakke in lewenswetenskappe en voel in my hart dat ek hierdie beroep moet volg.” 
Aobakwe Thuto Sebokolodi van Tau Rapulana Secondary School in Bodibe gaan Aptekerswese by die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus studeer. “Dit is fantasties!” het hy met die ontvangs van sy skootrekenaar gesê. “Ek is baie dankbaar.”