NOORDWESTER – LICHTENBURG - Tweede kans kry betekenis wanneer ons gesprek begin aan huis van Louis en Maryna Nel. Omstandighede van die die verlede is vergete en al wat belangrik is, is die hede.
Sowat twee jaar gelede het ‘n baie goeie vriend van Louis (55) vir hom gereedskap gegee. In die ou blou kar, soos hy daarvan praat, het sy nuwe “lewe” vanuit die kattebak begin. Hy het na boere gery en op plase begin werk. Sy hidroliese kennis het hom deurgetrek en kort voor lank het nog vriende hom gehelp om sy dienste uit te brei.
Toe dit beter begin gaan, bid hy en vra vir ‘n bakkie. Hulle leef totaal op die Here se genade, geloof, hoop, liefde en self-dissipline, sê die twee. So help ‘n boer met ‘n bakkie! Dit begin beter gaan met hulle en hul vier kinders. ‘n Goeie vriend registreer vir Louis sy besigheid, ander kom en bied hulp aan. Op ‘n dag kom ‘n Indiër van Johannesburg daar aan en bied sy hulp aan. Op die vraag hoe hy by hulle uitgekom het was die antwoord: “Die Here het my gestuur”. Lichtenburg gemeenskap sorg vir voorraad, ander help waar hul kan. So leer die gesin mense ken met groot harte en omgee. Louis en Maryna leer die Here gee, soms ‘n bietjie, soms meer, en alles moet gebruik word. LM Hydraulics (Louis en Maryna) bou ‘n kliëntebasis op, tot sover as 1200 km van Lichtenburg af, wyd en suid oor die land. Twee jaar gelede borg ‘n familielid die besigheid se eerste advertensie by die Noordwester. Daarna adverteer hulle elke week, al gaan dit hoe, want dit dra die besigheid. Louis glo mense moet aan sy gesig en besigheid gewoond raak. Elke week moet die besigheid konstant bly. En vandag pluk hy die vrugte hiervan. As iemand ‘n hidroliese probleem het, waar is Louis? “People buy from people” is sy woorde. Hy glo aan intensiewe en harde werk. In 2021 het hy een werker gekry wat hom help - dié man is steeds aan sy sy. Deesdae bestaan sy span uit agt werkers. Dit bly nie net by besigheid nie. Louis en Marynay ploeg terug in die gemeenskap soveel en waar hulle kan. Gasvryheid en alles wat hulle ontvang het, word in dubbelmaat sover moontlik terug gegee. In die werksplek is ‘n yskassie met koeldranke. Ons trek wenkbroue op en vinnig kom die antwoord:“Boere, kliënte, almal weet hulle kry vir hulleself ‘n drinkdingetjie”.’n Klein gebaar, tog baie belangrik. JM Hydaulics se motto: Nederigheid, vriendelikheid en eerlikheid is wat jy kry!
Wat ‘n inspirasieverhaal, ons dorp het dit so nodig. Lichtenburg se mense het die potensiaal om weer op te staan en dié dorp in glorie te herstel. Saam kan ons ‘n verskil maak!
Dankie Louis, Maryna en gesin vir die voorbeeld wat julle is en die moed wat julle gee aan elkeen.
‘n Nuwe begin in geloof, hoop en liefde.