NOORDWESTER - LICHTENBURG - Die Nasionale Verbruikerskommissie (NKR) het met inspeksies begin om te verseker dat onveilige en goedere wat verval het van die rakke verwyder word. Dit is in die verbruikers se belang wanneer voedsel gekoop word.
In die gebiede wat geïnspekteer is, het die span gevind dat daar te baie tekortkominge is, veral van goedere wat reeds verval het, wat wel verkoop word.
Voedsel wat nie voldoen het nie, sluit in babakos, lekkers, koeldrank, noedels, versnaperinge, blikkieskos, sappe en ander verbruiksgoedere. Vervalde produkte word ook aan verbruikers verkoop teen afslagpryse of spesiale aanbiedings. Hierdie kan ernstige nagevolge hê.
Kwitansies moet uitgereik word vir alle verkoopte items en moet die volgende inligting bevat: die naam van die verskaffer of geregistreerde besigheidsnaam, BTW-nommer (indien enige), adres van die perseel, datum waarop die transaksie plaasgevind het, naam en beskrywing van enige goedere of dienste wat verskaf is, eenheidsprys van die goedere, hoeveelheid, totale prys voor enige toepaslike belasting, en totaal van die transaksie, insluitend toepaslike belasting. Verbruikers word versoek om na die vervaldatums te kyk. Die NKR se waarnemende kommissaris, mnr Hardin Ratshisusu, sê dat versuim om betaalstrokies uit te reik, verbruikers die reg ontneem om goedere terug te besorg in ‘n geval waar kwaliteit in die gedrang is. Waar goedere nie aan die vereiste standaarde voldoen nie, sal daardie goedere van die rakke verwyder word om verbruikers te beskerm, en opvolg- aksies sal uitgevoer word.