Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *

Latest news
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

NOORDWESTER - LICHTENBURG - Die bestuur van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in die provinsie is bekommerd oor toenemende bedrogsake in plekke soos onder meer Rustenburg, Hartbeespoortdam, Lichtenburg en Klerksdorp. 
Ten spyte van gereelde waarskuwings en wenke deur die polisie en finansiële instellings, is dit duidelik dat bedrieërs steeds niksvermoedende lede van die gemeenskap bedrieg. Dit is uiters belangrik dat versigtigheid uitgeoefen word wanneer ‘n mens transaksies met maatskappye of individue doen.

In Hartbeespoortdam het bankrekeninghouers oproepe ontvang van ‘n persoon wat beweer het dat hy ‘n bankwerknemer is wat die bank se bedrogsake hanteer. Die oproeper het die rekeninghouers versoek om dringend op hul bank-applikasie aan te teken om bedrieglike transaksies te stop. As gevolg van toegang tot dié besonderhede, het die verdagte geld uit die slagoffers se rekeninge onttrek.
‘n Tweede geval in Hartbeespoortdam was dié van ‘n slagoffer wat ‘n boodskap gekry het dat hy ‘n begunstigde van ‘n boedel is van ‘n familielid wat in ‘n vreemde land oorlede is. Die slagoffer is oorreed om ‘n sekere bedrag vir belasting en uitklaring van die erfenis te betaal. Sedertdien is niks van die verdagte gehoor nie. 
In sommige gevalle het potensiële motorkopers gereageer op laer as markverwante voertuigverkooppryse wat geadverteer is op WhatsApp, Facebook en ander aanlynplatforms. Foto’s van die voertuie is gedeel om kliënte te lok. Die bedrieër/s sou potensiële kopers ook inlig dat die voertuig opgeveil sal word tensy hulle die kooptransaksie met ‘n deposito beveilig. Die bedrieër/s sou ook bedrieglike dokumente deel om die potensiële kopers te oortuig dat die transaksie wettig is en om die balans en afleweringsfooie te betaal. Geen voertuig sou egter afgelewer word nie.
Veiligheidswenke om toe te pas:
•  Indien niksvermoedende kliënte verdagte oproepe ontvang, moet hulle dadelik dooddruk en hul banke se bedroglyne bel.
• ‘n Bankwerknemer sal jou nooit vra ‘n One Time Pin (OTP) nie. Moet nooit vir ‘n persoon jou OTP gee nie.
•  Moet nooit die gevraagde inligting aan die oproeper verskaf nie.
•  As u nie ‘n ‘familielid’ ken wat in ‘n ander land woon nie, is die kans goed dat daar niemand is wat ‘n erfenis vir u nagelaat het nie. Moenie geld betaal vir belasting of klaring nie.
•  Moenie vir ‘n motor betaal as u dit nie fisies gesien het nie. 
Motors wat vir ‘n veiling betaalbaar is, sal by ‘n gegewe fisiese adres besigtig kan word en egte afslaers sal jou nooit toegang weier om die voertuig gedurende besigheidsure te besigtig nie.
• Vermy antwoord op briewe / e-posse / SMS’e wat bedrieërs aan u stuur.
• Moet nooit u ID, wagwoord of PIN bekend maak nie.
• Plaas sinvolle transaksiebeperkings op u rekeninge.
• Wees versigtig vir iets wat té goed lyk om waar te wees, want dit is gewoonlik die geval.