Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Die bekende spanningsverhaalskrywer Christelle Wessels het haar joernalistieke loopbaan by Klerksdorp Rekord begin.
Vandag leef sy haar droom as voltydse skrywer nadat sy vir lank by die Noordwes Koerantgroep gewerk het. Na die publikasie van haar debuutroman ‘Adder’ deur Penguin Random House in 2016 sou sy tevrede wees met een boek, want dit was ‘n droom wat bewaarheid is.
“Ek kon my nie indink dat ek ooit weer só gelukkig sou wees nie,” vertel Christelle. Daarna is ‘Brandmerk’ vir publikasie gekeur, gevolg deur ‘Om beter te kan moor’. Hierdie derde roman van Christelle is ook in 2023 genomineer vir die Mnet/Rapport Herman Binge-prys vir die mees verfilmbare boek. ‘Om beter te kan moor’ het die kortlys van die kompetisie gehaal en het toe in die Top 3 geëindig.
Haar vierde spanningsroman, ‘Wegkruiper’ het die maand die lig gesien en is nie soos die eerste drie boeke met mekaar verbind nie. Terwyl die boek nog vars van die drukpers is, vlieg dit van die rak af en dit is duidelik dat Christelle nie meer net as ‘n nuwe skrywer geag word nie.
Ons het ‘n paar vrae aan Christelle gestel. Hier is haar antwoorde:
* Wat is die verrassendste ding wat jy tydens die skryf van Wegkruiper oor die skryfproses (en dalk ook jouself) geleer het?
Antwoord: Iets wat ek eintlik al met my debuut, Adder, besef het, is dat ‘n mens se ma nie áltyd reg is nie. My ma het gereeld gesê ek is ‘n sweetvos, bedoelende dat ek gou is om iets te begin, vreeslik opgewonde raak - en dan ewe vinnig belangstelling verloor. Maar met skryf het ek ontdek dat ek kán uithou en aanhou. Want ek wil.
* Wat laat jou aanhou skryf, en spesifiek in Afrikaans? Wat is die beste én moeilikste ding omtrent skrywerskap?
Antwoord: Ek wil glo dat ek stories het om te vertel, daarom skryf ek. Hierdie intriges wat nesskop in my kop, wil ek deel - selfs al sou daar net één leser wees wat gaan dink dat dit ‘n goeie storie was. Ek skryf in Afrikaans omdat dit mý taal is; Die taal waarin ek vir die eerste keer stories gehoor en gelees het. Ook, my stories gaan, grotendeels, oor die mense wat in Afrikaans leef - in haar kleurryke gedaantes. Maar, ek sal Grieks ook leer indien dit die enigste taal is waarin ek sou kon stories deel. Die beste deel van skryf is wanneer lesers jou vertel dat hulle jou boek geniet het. Die moeilikste deel is om te skryf en te weet jy moet ook bereid wees om die kritiek sáám met die lof te neem.
* Hoe voed jy die kreatiewe vonk?
Antwoord:
Behalwe om koerante en tydskrifte se ‘Human Interest’-stories te lees, verslind ek ook alles wat ek kan kry oor, veral Suid-Afrikaanse, ware misdaad. Dan verwerk ek dié goed in my kop terwyl ek in die tuin werk. Ek probeer groente kweek uit alles moontlik en raak kinderlik opgewonde wanneer die saadjies begin ontkiem. My chillies is bobaas en ek beskou myself al geruime tyd as nie-amptelik agterplaastamatieboer.
* Watter boeke of skrywers - lewend of dood - het die grootste invloed op jou lees- en skryfgewoontes gehad of die vernaamste rol in jou ontwikkeling as skrywer gespeel? Is daar spesifieke boeke waarheen jy terugkeer (en waarom)?
Antwoord: Die eerste boeke wat my regtig betower het, was Leon Rosseau se Fritz Deelman-reeks. Ek het vir my ma-hulle die stories opgevoer - of hulle nou wou kyk of nie. Ek was ook van laerskooldae af al ‘n Agatha Christie-aanhanger. Deesdae is my gunsteling-misdaadskrywer Karin Slaughter. Maar Stephen King se ‘On Writing’ lê deurentyd langs my rekenaar - om elke nou en dan te herlees en om deurentyd aan die lesse herinner te word.
* Watter boek is op jou bedkassie?
Antwoord: Leon van Nierop se Droomjagter en Die nege lewens van Mevrou Smit van Elizabeth Wasserman.
* Hoe sien jy jou skrywerskap vorentoe ontwikkel? En waaraan werk jy tans, of wat is jou volgende skryfprojek?
Antwoord: Ek hoop dat ek met elke nuwe boek beter as storie-geleier sal vaar. Wat skryfwerk betref: My vyfde boek - wat miskien bietjie van die krimi-spoor gaan afwyk - spook om klaar te kom. Dié een moet my nog presies wys waarheen hy op pad is; Ek en hy is nog aan’t koppe stamp. En dan het ek ook al met die buitelyne van ‘n manuskrip begin wat weer volbloed-misdaad is.
Waaroor gaan Wegkruiper? Daar is onheil op Onrus. Drie moorde wat skynbaar glad nie verband hou nie, net ’n vreemde verbintenis met ‘n pierewaaier eiendomsagent. Dan nog die meisies wat ook so aanhou verdwyn. Weet die grillerige fotograaf se vrou dalk iets? Speurder Lisamore Talakase se werk is uitgeknip vir hom in Christelle Wessels se vierde spanningsroman Wegkruiper. Hy is boonop nuut op Hermanus en nie in die bevelvoerder se goeie boekies nie, en moet hulp uit alle oorde kry om die moordenaar/s aan die pen te laat ry. Wegkruiper wys in watter nagmerrie ’n dorp ontaard wanneer die sondes van die verlede ’n gemeenskap inhaal.