Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Dit is 11 maande na Wayne van Zyl se dood in die parkeerterrein van Tipsy Cow, ‘n plaaslike kroeg wat intussen sy deure gesluit het.
Familie en vriende van die jongman het op Vrydag 13 Oktober wat sy 24ste verjaardag sou wees, ballonne voor die Klerksdorp Landdroshof vrygelaat as ‘n teken dat geregtigheid moet geskied in die ondersoek na sy dood. Frikkie Jansen van Rensburg, ‘n plaaslike musikant wat na Van Zyl se dood in hegtenis geneem is, het dieselfde dag in die streekhof op ‘n aanklag van moord verskyn. Hy is uit op borgtog.
Die moordsaak spruit uit ‘n beweerde bakleiery tussen Van Zyl en Jansen van Rensburg op 27 November verlede jaar. Van Zyl het gesterf weens bloeding op die brein.
Lizette Brown, ‘n familielid, het aan Klerksdorp Rekord gesê dit was ‘n aaklige dag vir die familie om op sy verjaardag hof toe te gaan. “Die seer is nog dieselfde.” Sy het sedertdien na Johannesburg verhuis, maar probeer om met elke verskyning in Klerksdorp by die hof te wees, want “die familie staan saam en ons sal altyd saamstaan”.
Die saak is na 30 Oktober uitgestel. “Dit was ‘n baie groot slag vir die familie. Hy het in my huis grootgeword. Ek ken hom van sy babadae af. Al die nefies het saamgespeel, saam huiswerk gedoen. Die familie is Klerksdorpers in murg en been. Ons het almal so na aan mekaar gebly,” het sy gesê.
Volgens haar kry almal swaar. Sy pa, Cor, sukkel. Hy bly nog in Klerksdorp en is ‘n plaaslike sakeman en Mariette maak elke oggend kospakkies en dis erg om elke oggend een pakkie minder te maak. “Wayne se kamer is nog net soos hy dit gelos het. Wayne se dood is vir ons almal so erg. Van ons is nog op antidepressante. Die pyn is nog dieselfde, so ook die gemis,” sê sy hartseer.
Sy het ‘n Facebook-groep, Justice for Wayne van Zyl, geopen om seker te maak hy word nie vergeet nie.