Klerksdorp Record, Klerksdorp - Motoriste word deesdae byna daagliks in padblokkades voorgekeer en veral die verkeersdepartement is naarstigtelik besig om uitstaande lasbriewe in te vorder.
Volgens die provinsiale polisiekommissaris is padblokkades ook ‘n goeie manier om misdaad te voorkom en sal dit meer en meer ‘n algemene gesig op ons paaie word.
Op Vrydag 14 Junie, aan die begin van die langnaweek, het die polisie saam met verkeersbeamptes ‘n padblokkade by die Orkney/Leeudoringstadkruising beman wat verkeer vir ‘n wyle opgehou het. Orkney polisie het ‘n veertigjarige man hier in hegtenis geneem nadat hy in besit van gesteelde koperkabel betrap is.
Volgens lt kol Amanda Funani, polisiewoordvoerder, was die koperkabel in die motor se kattebak gekry. “Die man was van Leeudoringstad na Orkney onderweg toe sy motor in die padblokkade vir deursoeking uitgewys is. Die koper is in die kattebak gevind en hy kon nie ‘n geldige verduideliking gee vir die besit daarvan nie.’’
Hy het die week in die landdroshof op Orkney verskyn op klagtes van die besit van vermoedelik gesteelde eiendom en beskadiging van noodsaaklike infrastruktuur.
Die provinsiale polisiekommissaris, luitenant-generaal Sello Kwena, het die lede geprys vir hul oplettendheid wat tot die arrestasie gelei het. Hy het verder gesê dat wetstoepassingsagentskappe sal voortgaan om verskeie aksies uit te voer om misdaad te bekamp.