Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - KHS ry die blou golf van sukses na hul oorwinning die afgelope naweek teen Ligbron van Ermelo in die Noordvaalbeker se plaatafdeling.
Dié wen maak dit drie in ‘n ry vir KHS en hoop hulle om daarop voort te bou wanneer hulle die naweek na Pretoria reis vir die wedstryd teen Oos-Moot.
Die Klerksdorpers is mooi op koers met sewe oorwinnings uit die nege wedstryde teen Ligbron op Saterdag 20 Julie. Die hoofwedstryd was taai met die eerstespan wat dit uiteindelik in hul guns beklink het met ‘n telling van 38-31.
KHS was vinnig uit die blokke met drie drieë vroeg in die eerste helfte, danksy puik spel van die voorspelers wat hul opponente verras het. Kaptein GJ Steenberg wat week na week die span lei met puik spel het twee drieë gedruk. Die ander drieë is gedruk deur Diwan Labuschagne, Bokamoso Mabeleng, Louis Vorster en Tyron Masango. Deacon Loots het vier van die drieë verdoel.
KHS se ander uitslae was as volg:
* 14A wen 26-0
* 14B wen 35-0
* 15A wen 34-19
* 15B wen 17-14
* 16A verloor 5-31
* 16B verloor 0-40
* 3des wen 27-5
* 2des wen 27-12
KHS se eerste span en talle van die ander spanne het op beweeg in die log na semi-finaal posisies met nog drie harde wedstryde oor.