Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - KHS sal hul reeks wenne wil voortsit die naweek wanneer hulle teen Hoërskool Ligbron te staan kom.
Na ‘n swak begin in die Noordvaalkompetisie het die KHSérs nuwe moed nadat die eerstespan hul laaste twee wedstryde gewen het. Dit was veral die oortuigende 23-14 wen teen die onoorwonne HTS Middelburg wat nuwe asem in die span geblaas het.
Die tuisveldvoordeel tel natuurlik ook in die Klerksdorpers se guns en hulle sal dit beslis wil uitbuit in die naweek se wedstryd teen die besoekende Ligbron.
In die afgelope naweek se byna foutlose wedstryd het skrumskakel Jarred van Staden sy spel briljant afgewissel met taktiese skopwerk. Kaptein en yster agsteman GJ Steenberg het die opponente meters teruggedryf.
Nog spelers wat uitgesonder kan word vir uitsonderlike spel is Liam Pretorius en Divan Labuschagne.
KHS het oor die algemeen ‘n goeie dag op die rugbyveld gehad met net drie spanne wat verloor het. Die ander tellings: Tweedes wen 22-13, derdes verloor 7-8, 14A wen 20-0, 14B wen 38-0, 14C wen 12-0, 15A wen 26-7, 15B verloor 10-12 en 16A verloor 17-27.