NOORDWESTER - LICHTENBURG - Vet is ‘n drieletterwoord wat deel moet wees van jou dieet.
1. Elke sel in jou liggaam het vetsure nodig waarvan die poli-onversadigde omega 3 (en omega 6) voorbeelde is. Dit is veral voordelig vir die oë en brein, maar dit is ook belangrik vir jou spiere, jou immuunstelsel, spysvertering en vrugbaarheid.
2. Omega 3 bestaan nie net uit een soort vet nie, maar is ’n groep verskillende soorte vette (ALA, DHA en EPA), wat ’n beduidende rol in gesonde breinontwikkeling by babas speel en tot ’n gesonde senuweestelsel bydra. Dit word dan ook die essensiële vetsure genoem.
3. Omega 3 hou anti-inflammatoriese voordele in en mense wat dié vette inneem, se hartgesondheid kan verbeter, daarom is dieet belangrik.
- Goeie plaasvervangers vir omega 3 in jou dieet is onder andere makriel, salm, vars tuna, sardientjies en oesters. Omega 6 kry jy in sonneblom, avokado en rou pampoensade.
- Die hoeveelheid vetsure wat jy moet inneem word deur jou geslag en ouderdom bepaal. Die Wêreld- Gesondheidsorganisasie se aanbeveling vir gesonde volwassenes daagliks, is 250 – 500 mg (kombinasie van DHA en EPA).
4. Te veel omega 6 affekteer die absorpsie van omega 3 en kan die voordele van omega 3 in die liggaam beïnvloed. Hou ook in gedagte dat ons diëte dikwels ’n tekort hieraan het en dat aanvullers aanbeveel word as jy nie gebalanseerd eet en genoeg van die regte kossoorte inneem nie.
5. ’n Wanbalans tussen omega 3 en omega 6 kan onder andere lei tot: chroniese inflammasie, diabetes, obesiteit, metaboliese sindroom, vetterige lewer, asma, kardiovaskulêre siektes en psigiatriese toestande soos depressie, angs, sekere simptome van aandaggebrek- en hiperaktiwiteitsindroom, Alzheimers en demensie.