NOORDWESTER – LICHTENBURG/COLIGNY/TLABOLOGANG – Ditsobotla Munisipaliteit het duisende inwoners oor die feestyd in die donker gelaat. Honger. Dors. Nat. Geldloos. Verotte kos. In sak en as.
Inwoners van die Ditsobotla-munisipaliteit se geduld met swak dienslewering, onder meer watervoorsiening wat ses weke gelede as gevolg van gebrekkige onderhoud aan infrastruktuur en pompe stopgesit is, het nou ook opgedroog in Coligny. Daar was ook geen elektrisiteit vir weke aaneen in Lichtenburg nie – tesame met die waterkrisis. Basiese dienste het lankal verdwyn.
Inwoners wat dit kon bekostig was met vakansie saam met die res van die land. Dié wat nie so gelukkig was nie, moes oorleef in ‘n rampspoedige Kerfees en nuwejaar en nog veel langer in die nuwe- jaar met dieselfde probleme wat steeds met ons is met ter perse gaan aan die orde van die dag was.
Hierdie toestand het verreikende gevolge op finansies in ‘n reeds sukkelende ekonomie. Toe welkome reën begin val het het inwoners ook nie vloedskade verwag nie. Dit het nog verdere las op die sukkelende inwoners gelaai. Groot skade is verder gely deur die toedoen van ‘n disfunksionele munisipaliteit wat nie broodnodige gereelde instandhouding enige aandag skenk nie. Die dorp se dreineringstelsel is ‘n fiasko.
Baanbrekerswerk is gedoen deur Carin Visser, konsultant in regeringsaangeleenthede en voormalige DA-LP saam met ‘n span uit die dorpe. Dankie vir elkeen se onbaatsugtige opofferings, lang ure en aanhou om die duisende inwoners te help te midde van die frustrasies. Lichtenburg, Coligny en Tlabologang salueer julle.
Dankie aan inwoners wat kalm gebly het en dankie aan ons Hemelse Vader wat ons elke dag genade betoon om aan te gaan in onmenslike omstandighede. Politieke onstabiliteit in die munisipaliteit lei tot swak of geen funksionalteit. Laat, vae verskonings en vals beloftes deur Disobotla word deur inwoners met die nodige minagting bejeen wat dit verdien.