Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Die Klerksdorp Boekefees vind die eerste naweek van November plaas met ‘n propvol program wat lesers gaan besig hou.
‘n Hoogtepunt Saterdagaand is ‘n voorlesing van gedigte deur bekroonde digters Tom Dreyer, Toast Coetzer en Alwyn Roux. Op die program dui dit aan dat hulle sal gedigte voorlees in ruil vir wyn. Die joernalis Jo Prins sal die voorlesing op koers hou. Dit is maar een van die vele hoogtepunte op die program met lesers van jeugverhale, en die gewilde Romanzas wat ook van hul geliefde skrywers sal ontmoet.
Klerksdorpers wat die boeke oase by Aardklop gemis het en met verlangende oë na foto’s van die Woordfees op Stellenbosch gekyk het, hoef nie te bekommer nie hier is iets vir julle ook.
Die fees vind vanjaar vir die vyfde keer plaas en word vir die tweede keer by Verdant gehou. Die fees begin Vrydag 12:00 al en sluit Saterdagaand af met die digters. Skrywers wat ons besoek sluit in TJ Strydom (Capitec - Stryd met die Grotes), Deon Lamprecht (Bloedbroers), Riaan Grobler (Geheime op Philidelphia), romanskrywer Helene Hugo en ‘n hele paar Romanza-skrywers soos Felicia Snyman en Bibi Potgieter en jeugverhaalskrywers soos Sandy Schoeman, Hannes Barnard, Annerle Barnard en Sunel Combrink. Moet nie vergeet van Stefaans Coetzee se kortverhaal-bundel Sel Ses wat almal aan die praat het nie.
Beeld se 50 jaar gedenkboek gaan ook tydens die Klerksdorp Boekefees oor gesels word, so boekwurms kan ‘n propvol program verwag. Omkring nou al die datum op jou kalender sodat jy dit nie mis nie.
Die beste van alles, is al die boekgesprekke is gratis. Al waar kaartjies te koop is, is die Vrydagaand se gesprekke wat ‘n braaivleisete insluit. ‘n Bonus is optrede deur Riku Lati en Bacchus Nel. Stuur solank vir Salomé Kotzé ‘n Whatsapp na 079 876 7616 as jy meer info wil hê.