Sedert Klerksdorp se ontstaan in 1837 (toe 12 Voortrekker gesinne hulle tussen Oudorp Koppies en Skoonspruit gevestig het in wat ons vandag ken as Klerksdorp Oudorp), was die stad niks meer as ʼn klein plattelandse nedersetting nie. Klerksdorp Museum se historikus verskaf ‘n blik op die vroeë goudmynbedryf in Klerksdorp.
Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Mens kon Klerksdorp beswaarlik ʼn dorp noem, aangesien dit slegs een straat (Hendrik Potgieterstraat, die wapad wat voor die klein aantal huise se voordeure verbygeloop het), en enkele ander geboue soos die kerk en Taylor en Leask Algemene Handelaar gehad het.
Dit sou alles in ʼn ommesientjie verander na MG Jansen van Vuuren se ontdekking van goud op sy plaas Ysterspruit in die Klerksdorp distrik. Hoewel hy nooit hierdie goud ontgin het nie, het Van Vuuren wel die ZAR regering per brief gedateer November 1885, daaroor ingelig.
Thomas Leask (wat teen hierdie tyd wyle JA Taylor se aandeel in die Algemene Handelaar uitgekoop het) het van die gerugte van goud te hore gekom en dadelik begin om minerale regte op verskeie plase en eiendomme rondom Klerksdorp uit te koop.
Na die ontdekking van goud in Johannesburg het Leask rotsmonsters van die Witwatersrand Goudveld bekom en besef dat dit merkwaardig baie lyk na die klip wat uitgegrawe is op die dorpsgronde vir ʼn fondasie van ʼn huis. Die dorpsgronde verwys na die vlakte tussen die hedendaagse Matlosana Mall en Goudkoppie) en hy het daar prospekteerwerk laat doen. Gevolglik is goud in verskeie rotsformasies rondom die dorp ontdek en is die eerste kommersiële kleims op die dorpsgronde uitgelê. Hierna het ‘n goud stormloop duisende fortuinsoekers na Klerksdorp laat stroom, en die eens rustige dorpie het kort voor lank in ʼn plakkerskamp verander, met een delwer wat homself sommer tuisgemaak het in ʼn groot houtkrat waarin swaar mynbou masjinerie na die dorp verskeep is.
Baie gou was daar nie meer genoeg woonplek vir al die inkommers in Oudorp nie, en so het die dorp met rasse skrede oos van die Skoonspruit uitgebrei (die ontstaan van die hedendaagse Nuwedorp).
Teen 1888 het Klerksdorp sy eie Aandelemark gekry en die splinternuwe gebou is in Maart 1889 geopen. Vir etlike maande is daar fluks sake gedoen, maar kort voor lank het dit begin duidelik word dat die mynbedryf in Klerksdorp ʼn kaartehuis was wat gedreig het om inmekaar te stort. Met die onbeheerste instroming van mense wat vinnig wou probeer geld maak, het hordes klein goudmyn maatskappye ontstaan en enige Jan Rap en sy maat is aangestel as mynbestuurder, terwyl die meeste van hulle totaal onbekwaam was vir die pos en dikwels meer tyd in een van Klerksdorp se talle kroeë deurgebring het as by hul myne. Die maklik bereikbare goud-neerslae is ook gou uitgemyn en slegs groot maatskappye met baie geld kon bekostig om dieper te myn.
Die Runderpes-epidemie van die 1890’s het verder daartoe bygedra dat baie mynmaatskappye bankrot gespeel het nadat al hul muile (wat gebruik is om die koekpanne met goud-erts uit die myne te sleep) gevrek het. Die myners het binnekort na hierdie eerste ineenstorting na Johannesburg se goudvelde verkas en dikwels al hul toerusting in Klerksdorp agtergelaat. Baie algemene handelaars in Klerksdorp moes derhalwe ook hul deur sluit, en die Aandelebeurs het ook in die slag gebly. Gelukkig is die mooi gietyster hekke vir baie jare daarna bewaar en vorm vandag die hoofingang van Klerksdorp Museum.
Teen April 1890 het goudmyne begin om ʼn nuwe ekstraksie-metode te volg om die goud uit gemynde rots te onttrek. Tot op daardie stadium is kwik by die verpoeierde modder gevoeg wat dan die goud laat neerslaan het uit die moddermengsel. De nuwe metode (bekend as die McArthur Forrest Proses) het sianied as plaasvervanger vir kwik gebruik en het heelwat meer opbrengste gebied.
Waar die totale jaaarlikse goudproduksie vir 1890 (waartydens kwik nog gebruik was) maar 10 967 onse was, het dit teen 1892 gestyg tot 12 780 onse. Gou het die mynbedryf weer herstel en in 1895 was die totale produksie vir die jaar 71 776 onse. Hierdie tweede asem vir die goudmyne van Klerksdorp sou voortduur tot en met die Anglo Boereoorlog (1899 - 1902), maar dit is ʼn storie vir ʼn ander keer.
* Mense wat meer wil weet oor die vroeë geskiedenis van Klerksdorp en omgewing, kan Klerksdorp Museum skakel by 018 487 8900 of e-pos stuur na