Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - ‘n Interessante program wag op boekwurms by die Klerksdorp Boekefees.
Die fees vind die eerste naweek van November plaas en skop reeds Vrydag 1 November af by Verdant om 12:00 met ‘n gesprek met sakejoernalis TJ Strydom oor sy boek Capitec - Stryd met die grotes.
Later die middag word Beeld se 50 jaar gedenkboek bekendgestel en dan kuier die sangers Riku Latti en Bacchus Nel saam om die braaivleisure wanneer Deon Lamprecht oor sy boek Bloedbroers gaan gesels. Die boek vertel die verhale van oorlewendes van Operation Smokeshell in 1980. Bespreek nou jou sitplek en ete teen R250 per persoon.
Saterdag se program skop reeds om 10:00 af en besoekers kan benewens die interessante skrywersgesprekke ook twee gratis werkswinkels bywoon. Anemari Jansen bied ‘n werkswinkel aan oor hoe om jou eie memoir te skryf en die bekroonde filmmaker Stefan Enslin gee ‘n werkswinkel oor draaiboek skryf.
Jeugskrywers Annerle Barnard, An-Mari do Carmo, Sunél Combrink, Constant van Graan en Cliffordene Norton kom saam kuier en die Klerksdorp Boekefees is ook die plek om te wees as jy Klerksdorpse skrywer Sandy Schoeman se nuutste pennevrug, Chakalaka uit ‘n blikkie wil aanskaf.
Nog ‘n hoogtepunt Saterdagaand is ‘n voorlesing van gedigte deur bekroonde digters Tom Dreyer, Toast Coetzer en Alwyn Roux. Op die program dui dit aan dat hulle sal gedigte voorlees in ruil vir wyn. Die joernalis Jo Prins sal die voorlesing op koers hou. Dit is maar een van die vele hoogtepunte op die program met lesers van die gewilde Romanzas wat ook van hul geliefde skrywers sal ontmoet.
Die fees vind vanjaar vir die vyfde keer plaas en word vir die tweede keer by Verdant gehou. Die beste van alles, is al die boekgesprekke is gratis.
Al waar kaartjies te koop is, is die Vrydagaand se gesprekke wat ‘n braaivleisete insluit teen R250. Skakel Salomé Kotzé by 079 876 7616 of Stefaans Coetzee by 082 479 3343 om jou plek te bespreek.