Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Baby Breydenbach het die afgelope naweek haar 99ste verjaardag gevier. Sy was omring deur haar kinders, familie en vriende op Saterdag 26 Oktober.
Sy is al die afgelope nege jaar ‘n geliefde inwoner van die Klerksdorp Tehuis vir Bejaardes en is tans die oudste dame wat daar woon.
Hoewel haar gehoor en gedagtes nie meer so helder is nie, lees sy nog haar Bybel sonder ‘n bril en sy is veral lief om Psalms te lees en vertel vinnig Psalms is in die middel van die Bybel. Sy eet self en is baie gesteld op watter klere om aan te trek. Baby geniet goeie gesondheid en ly nie aan hoë bloeddruk of ander verwante siektes wat met die ouderdom gepaard gaan nie.
Haar kinders beskryf haar as ‘n ystervrou met ‘n skerp humorsin, haar positiewe uitkyk en Christelike waardes is haar leefstyl.
Sy onthou veral goed dat sy in 1942 by die destydse Western Reefs-myn op Orkney begin werk het as tydhouerklerk. Op 3 Maart 1945 is sy getroud met Wynand waarna hulle na Klerksdorp verhuis het. Vier seuns is uit die huwelik gebore, waarvan twee nog lewe.
Vandag spog sy met 12 kleinkinders en 10 agterkleinkinders. Na ‘n huwelik van 64 jaar is haar wederhelf in 2009 oorlede. Hy was die mede-eienaar van Isaacs Hardware.