Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - ‘n Interessante rok wat die oog gevang het by KHS se matriekafskeid verlede maand was Zenobia Grobbelaar se denim uitrusting.
Dié tweestuk is gemaak uit ou de-nimbroeke wat sy gebêre het vandat sy agt jaar oud was. Ou klere van haar grootouers is ook gebruik om die unieke kledingstuk aanmekaar te sit.
Zenobia is ietwat van ‘n rabbedoe en gek oor haar denims. “Dit is omtrent al klere wat ek dra. Jy sal my altyd in ‘n denim sien. Haar plan vir die matriekafskeidrok het al van agtjarige ouderdom begin broei in haar kop.
“Ek en my ma het saam besluit dit sal oulik wees om so iets te doen en so het ons begin opgaar. Dit is lekker om te dink dat klere van my kleintyd en van my oupa en ouma in die uitrusting is,’’ het sy vandeesweek aan Klerksdorp Rekord vertel.
Sy het nie ver gesoek na ‘n ontwerper om haar droom te verwesenlik nie en Hendrik le Roux van Le Roux Couture was maar te gretig om te help. “Hierdie was een van ons lekkerste en interessantste rokke wat ons al ooit gemaak het. Dit is lekker om so ‘n kleintyd droom te bewaarheid en ons dink sy het pragtig gelyk,’’ het hy gesê.
Zenobia het sakke met 40 denims by hom afgelaai en hy en sy span het die kledingstukke opgesny en met die ontwerp vorendag gekom.“Ek is mal daaroor. ‘n Hemp van my oupa is in die bostuk se binnekant vasgewerk wat vir my baie spesiaal is, aangesien ek en my oupa ‘n hegte band gehad het. Hy het nie denim gedra nie, so ek het toe ‘n blou hemp van hom gebruik hiervoor.’’
Sy het gesê sy gaan die korset bostuk weer dra en besluit nog of sy die romp gaan herontwerp as ‘n ottoman vir haar kamer. Haar metgesel vir die aand het ook ‘n das gedra wat van die laslappie denim gemaak is.
“Ons matriekafskeid was ‘n fees.’’