Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Die 100ste bestaansjaarviering van Afrikaans as amptelike taal is Vrydagaand 20 Junie op ‘n luisterryke wyse in Klerksdorp gevier.
Dit was ‘n byeenkoms waar liefhebbers van kuns en boeke bymekaar gekom het vir ‘n viering wat nog lank onthou sal word. Kunstenaars wat hul liefde vir Afrikaans op skilderdoek uitgebeeld het, se kunswerke is onder die wakende oog van Zet Havenga van The B Gallery uitgestal. Die mooiste gedigte is voorgedra en selfs kortverhale is voorgelees.
Die digter en Afrikaanse dosent, Alwyn Roux het saamgekuier en gedigte voorgelees uit Merang, die versamelbundel van Afrikaanse gedigte wat spesifiek vir die viering van 100 jaar van Afrikaans saamgestel is. Dit was ‘n gesellige aand met braaivleis, ‘n warm kaggelvuur en ‘n liefde vir Afrikaans.
By die geleentheid is die datum van die Klerksdorp Boekefees vir 2025 aangekondig as 24-25 Oktober. Stefaans Coetzee het aangekondig dat ‘n boekfees-bundel bestaande uit die kortverhale, gedigte, en afdrukke van die foto’s en skilderye by die boekefees bekendgestel sal word. “Dit gaan ‘n onthouboek wees, en iets waarop ons wil voortbou om elke jaar uit te gee. ‘n Soort van nalatenskap wat ons wil vestig,’’ het hy gesê.
Klerksdorpers wat die funksie bygewoon het, het die samesyn geniet en veral die voorlesings van kortverhale en voordra van gedigte.