Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Inwoners het Chanelle Greenan al by van die stad se verkeersligte naby die landdroshof in die middestad gesien waar sy in haar rystoel sit en vra vir donasies.
Dié 23-jarige is so swak dat haar man haar moet ronddra, optel en versorg.
Sy en Johan het Klerksdorp Rekord besoek in die hoop dat iemand haar kan help om ‘n elektroniese rystoel te kry. Hy doen al die praatwerk en sy het in die motor gesit en net gegroet. “Die staat gee nie sulke duur toerusting nie. Ek weet van ‘n gebruikte een wat by ‘n pandjieswinkel staan, maar hy kos R12 000. Ek het die eienaar gevra of hy hom sal skenk, maar hy wil nie. Ek weet nie hoeveel kos ‘n nuwe een nie,” het Johan gesê.













