Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Bobaas skolerugby is op die spyskaart die naweek wanneer Hoërskool Klerksdorp en Hoërskool Wesvalia mekaar vir die eerste keer in die Noordvaal-liga op die rugbyveld ontmoet.
Die afskop in die liga, die oudste rugbyliga in die land, is op Saterdag 10 Mei en albei Klerksdorpse skole ding mee in die plaatafdeling van die liga. Beslis ‘n pluimpie in die hoed vir Klerksdorp met twee plaaslike hoërskole wat meeding teen skole byna dubbel hul grootte in dieselfde liga. Dit is die eerste keer dat Wesvalia in die liga speel, met KHS wat al verlede jaar hul buiging in die plaatafdeling gemaak het.
Groot rugby is op die spyskaart en die fluitjies blaas al om 08:00 vir die eerste wedstryde. KHS sal beslis die bordjies wil verhang na hul eerstespan se nederlaag teen Wesvalia in die NWU-reeks vroeër vanjaar. Die eerste spanne skop af om 13:45. Toegang tot die sportdag beloop R30 per persoon, en R30 per motor. Geen koelbokse word toegelaat nie. Verversings sal te koop wees.
Die netbalwedstryde word al op Donderdag 8 Mei gespeel weens provinsiale proewe op Saterdag. Die wedstryde by KHS begin om 14:30 en die eerstespanne speel om 16:15. KHS het die vorige kragmeting teen Wesvalia gewen.
Die hokkie astro sal op Vrydagmiddag 9 Mei besig wees met die seunsspanne (o/14s en eerstespan) wat mekaar pak. Die aksie begin om 14:15. Die meisieshokkiespanne speel ook op Saterdag by die astro met die eerstespan reeds om 09:00 in aksie.
* Dit is ook die naweek Hoërskool Schoonspruit se jaarlikse Classic Clash teen Hoërskool Wolmaransstad. Vanjaar reis die Schoonspruiters na Wollies. Die eerste netbalspan speel om 15:00, eerste hokkie (meisies) om 14:30, eerste hokkie (seuns) om 13:15 en die eerste rugbyspan skop om 18:15 af onder die spreiligte. Hekke open om 12:00. Hekgeld beloop R20 per persoon.